Openbare orde polisie by skool ontplooi

Gemeenskap sluit weereens skool.

Die Openbare Orde Polisie-eenheid (OOP) is Maandagoggend in Davidsonville by Roodepoort Primêr ontplooi.

Dit kom nadat die gemeenskap (verteenwoordig deur die Davidsonville Gemeenskaps Forum) en die skool reeds sedert Oktober verlede jaar haaks is oor die aanstelling van die hoof en adjunkhoofde wat volgens hulle “swart nasionalisme” is wat op hulle afgeforseer word. Dieselfde tyd verlede jaar het die gemeenskap ook die skoolhekke gesluit en die drie hoofde die pad gewys.

Daar is toe met die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir Onderwys, Panyaza Lesufi begin onderhandel wat beloof het om ‘n ondersoekspan aan te stel wat ook moes kyk na bedrog en die verkoop van top poste.

Teen Desember het dié verhouding egter versuur nadat die forum ongelukkig was met die bevindings van die ondersoekspan wat volgens hulle opsetlik verdraai is en nie met die sake aan hand gedeel het nie.

Met die heropen van die skool in Januarie het die oorblywende swart onderwysers gekla dat die konstante teenwoordigheid van lede van die gemeenskap op die skoolterrein, hulle geintimideerd laat voel het. Kort hierna het die onderwyser na bewering gedros en hulle klagtes by die distriksraad gaan opper waarna hulle nie terug gekeer het na die skool nie.

Volgens Theo van Rensburg, ‘n lid van die forum, het hulle Maandagoggend snuf in die neus gekry toe die OOP by die skool ontplooi is. Van Rensburg sê dat hulle vermoede dat die drie hoofde gaan terugkeer bevestig is toe dié saam met die nege onderwysers by die skool opdaag en gevra om weer toegelaat te word. Die forum het gesê die onderwysers is welkom maar nie die hoofde nie.

Intussentyd het lede van die gemeenskap en die OOP slaags geraak maar slegs in ligte skermutselinge.

Van Rensburg sê die forum is ondermyn en dat die Departement van Onderwys nou direk met die gemeenskap sal moet onderhandel. Die saak is egter nou tot by die Minister van Onderwys geêskaleer.

Die skool is tans toe en geen onderig word gegee nie.

Teen Woensdag was daar steeds ‘n sigbare polisie teenwoordigheid in die strate van Davidsonville.

Exit mobile version