Local newsNewsSchoolsUpdate

Dr Prinsloo groet Bastion

Luidens 'n skool persverklaring verlaat Doktor Anton Hugo ('Dok') Prinsloo Hoërskool Bastion as hoof in die eerste kwartaal wat eerskomende Woensdag (14 Januarie) begin.

Prinsloo het ‘n pos as hoof van Hoërskool Eldoraigne in Pretoria aanvaar. Prinsloo het as hoof by Hoërskool Bastion begin op 1 April 1998 en het die skool met trots vir die afgelope 16 jaar en nege maande gelei. Hy is die derde skoolhoof sedert die skool se bestaan. Sy vertrek is vir beide personeel en leerlinge ‘n hartseer saak, maar hulle verstaan dat ‘n groter uitdaging op hom wag.

“Harde werk en dissipline is die sleutelwoorde in die doeltreffende funksionering van ‘n skool,” het hy in 2002 aan Beeld gesê, en het dit keer op keer met die skool se puik prestasies bewys.

Volgens skoolwoordvoerder Melitta Geyser is personeel en leerlinge onder sy leiding aangemoedig om elke taak en elke dag met passie en toewyding aan te pak.

'Dok' Prinsloo met sy verjaarsdagvieringe by die skool in September laasjaar. Foto: Mathilde Myburgh.
‘Dok’ Prinsloo met sy verjaarsdagvieringe by die skool in September laasjaar. Foto: Mathilde Myburgh.

“Hy het die skool se onderwyskorps, ouers en leerlinge as vennote gesien en het altyd persoonlike interaksie tussen die betrokkenes nagestreef,” lui die persverklaring.

Prinsloo het September verlede jaar sy 52ste verjaarsdag saam met die skool gevier. By die vieringe het leier, Luanelle van Niekerk, van Prinsloo gesê, “Meneer [Prinsloo] se insette en leierskap beteken vir ons baie”. Die leiergroep van 2014 het hom bedank vir sy harde werk en opbou aan die skool oor die afgelope klompie jare.

Intussen is die beheerliggaam van die skool besig met die proses om ‘n interim-hoof aan te stel, vertel Geyser. Oor die afgelope week is onderhoude met adjunkhoofde vir die pos gevoer. In samewerking met die Departement van Onderwys is daar besluit om die twee topkandidate, Doktor Hardus van Loggerenberg en Lynette Jonker elk vir ‘n ses-week periode, van 12 Januarie tot 28 Februarie en 1 Maart tot 15 April, te laat waarneem.

“Beide Van Loggerenberg en Jonker word hartlik geluk en sterkte toegewens met die groot rol,” lui die persverklaring.

“Bastion se beheerliggaam en die personeelkorps glo dat dit die regte besluit is om te verseker dat Bastion op die suksespad bly wat akademie en die skool se ander aktiwiteite betref.

“Die beheerliggaam en personeel ondersteun hulle en die besluit ten volle,” lui die persverklaring.

Dok Prinsloo verlaat Bastion op ‘n hoogtepunt vanjaar nadat die skool onlangs ‘n 100%-slaagsyfer vir sy matrikulante van 2014 behaal het. Die beheerligaam, personeel en leerlinge wens hom sukses en sterkte toe met die nuwe uitdaging.

 

Related articles: 

 

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button