Laerskool Florida groet twee legendes

Twee onderwyseresse wat saam meer as 76 jaar hul dienste vir Laerskool Florida gebied het tree nou af.

Rina Vlok en Helena Breytenbach sal ‘n leemte laat, vertel skoolwoordvoerder Janine Birkenstock.

Vlok het in 1978 by die laerskool begin werk as ‘n Wiskunde-onderwyseres. Meer a 3 600 leerlinge is oor die jare deur haar hande.

“Sy spog met spreekkore van top gehalte wat sy saamgestel het en afgerig het sowel as 13 puik revue opvoerings,” het Birkenstock gesê.

Vlok dien ook as sekretaris en tesourier van die Roodepoort Afrikaanse Kultuurvereniging (Rak).

“Sy het diep spore hier getrap en haar passie vir beide Wiskunde en kultuuraktiwiteite gaan ‘n groot leemte laat,” het Birkenstock gesê.

Breytenbach was vir 40 jaar deel van die Florrie-span en het haar lewe toegewy aan elke leerder wat deur haar bekwame hande is.

“Sy het ‘n passie vir kinders en haar onvoorwaardelike liefde sowel as haar briefies en geskenkies sal gemis word.

“Haar helpende hand op die sport- en kultuurgebied het nooit ongesiens verbygegaan nie,” het Birkenstock gesê.

“Dit is nou ongelukkig tyd om te groet, tyd om twee geseënde loopbane vaarwel te roep.

“Gaan julle aftrede binne met God, met ‘n lied in julle harte en vreugde in julle siele,” het Birkenstock afgesluit.

Exit mobile version