Kommittee nie gelukkig met Roodepoort Primêr ondersoek

Belangrike aspekte glad nie bekyk nie.

Lede van ‘n informele tussentydse kommittee wat Roodepoort Primêr se hekke op 13 Oktober gesluit het en daarop aangedring het dat die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir Onderwys ingryp, sê hulle is nie gelukkig met die bevindings van die ondersoekspan nie.

Hulle grootste grief is dat die ondersoekspan, aangestel deur die LUR vir onderwys Panyaza Lesufi, sekere van hulle eise blykbaar opsetlik misgekyk het.

Volgens die adviserende voorsitter van die beswaarde kommittee, Raymond Dyers het die ondersoekspan gefokus op die rassesamestelling van die leerlinge en nie die van die top poste in die skool nie. Die kommitee het geëis dat die aanstelling van die hoof en twee adjunk-hoofde hersien moet word.

Volgens Dyers en sy kommittee is die poste gevul met swart mense as deel van ‘n geforseerde “swart nasionalisme” veldtog. Hy het daarop gewys dat dit telkens gebeur in kleurling gemeenskappe dat in staatsinstellings swartes aangestel word waar daar volgens die swart ekenomies bemagtigingsprinsiep (SEB) en gelykheidsbeginsel wel kleurlinge aangestel kan word. As voorbeeld het hy daarop gewys dat die vorige waarnemende hoof wat ‘n kleurling en fisies gestremd was op beide die beginsels vir die pos gekwalifiseer het maar dat hy heeltemal geignoreer was in die onderhoudsproses.

Dyers sê ook dat daar ander onreëlmatighede was gedurende die aanstellingsproses waarna die ondersoekspan nie gekyk het nie. Een daarvan is dat die skool se beheerligaam die onderhoudproses aan die Departement van Onderwys oorhandig het sonder die nodige papierwerk of toestemming van al die beheerligaamlede, en toe in elk geval die laaste sê gehad het in die aanstelling van die huidige hoof.

Nog ‘n groot kwelpunt vir Dyers en sy kommittee is die feit dat hulle pertinent gevra het dat die ondersoekspan finansieële wanbestuur by die skool moet bekyk wat hulle nie gedoen het nie. Sedert 2011 het die skool se bankrekening van bykans R500 000 geval tot net oor die R100 000 ten spyte daarvan dat daar geen projekte by die skool aangepak is nie en die skool sigbaar agter uitgegaan het.

Dyers het gesê met verwysing na die aanstelling van swart hoofde dat “swart nasionalisme dan noodgedwonge met ‘n oordrewe wit of kleurling nasionalisme beantwoord sal word”. Verder het hy die blaam by die Departement van Onderwys se deur gelê vir die faksionalisering tussen rassegroepe binne die skool en die gemeenskap.

Die hoof en twee adjunk hoofde meld tans nie by die skool aan nie maar wel by die departement se distrikstruktuur.

Dyers se kommitte wag nou vir die LUR se bevindings rakende die ondersoekspan se verslag.

“Indien die LUR se bevindings nie wedersyds bevredigend is nie sal die gemeenskap hulle tot die howe wend en as dit te duur word sal ons ons wend tot metodes wat in Suid Afrika bewys het dat soms as jy gehoor wil word moet jy seer maak,” het Dyers gesê met verwysing na protesaksie.

Die Departement van Onderwys kon nie sê wanneer die LUR sy bevindings bekend gaan maak nie.

Exit mobile version