MunicipalNews

Pragtuin word rioolplaas

Elize Grobelaar woon reeds 40 jaar in haar huis maar die netjiese inwoner wie se tuin altyd haar trots was is nou keelvol.

Daar is drie mangate op ‘n servituut in haar erf in Kiaat Straat. Van tyd tot tyd raak die rioolpype verstop en stoot die riool dan deur die mangate in haar erf in. Volgens Grobelaar moet sy telkens dae lank sukkel om haar klag by Joburg Water te lê en dan neem dit hulle ook gewoonlik drie tot vier dae om die pype oop te gaan maak. In die tydperk is die reuk nie net in haar tuin maar ook in haar huis onuithoudbaar.

Die afgelope ses weke het die penarie haar reeds drie keer getref en ‘n groot deel van haar agter tuin is toe onder die riool. Alhoewel Joburg Water wel die verstopte pype oop gemaak het laat hulle telkens na om agter hulle skoon te maak. Dit lok swerms vlieë en die laaste keer het die riool so hoog opgestoot dat selfs haar hout tuinhutjie se vloer onder water is.
Grobbelaar verduidelik dat die riool van ‘n groot tuinhuiskompleks hoër op in die straat onder deur haar erf moet loop en dat wanneer die pype geblokeer word en dit opstoot, dit ook in die speel area van ‘n skool wat aan haar huis grens affekteer. Sy is bekommerd dat dit die kinders se gesondheid kan benadeel en dat die vreeslike spul vlieë siektes kan aandrae.
Wat die probleem nog erger maak is die feit dat Grobelaar ‘n kleremaakster is wat van die huis af werk en sy sê dat sy haar dood skaam wanneer kliënte haar besoek. Sy is nou raadop en het selfs die probleem onder die aandag van raadslid Suzanne Clarke probeer bring maar sê dat sy dié nie in die hande kan kry nie.
Clarke sê dat sy onmiddelik ‘n vergadering op die perseel met Joburg water en Grobelaar sal reël om ‘n oplossing te probeer bemiddel.
Die record wag tans vir kommentaar van Joburg Water se woordvoerder Puleng Mopeli.

Related Articles

Back to top button