Geliefde Meneer Piet laat Roodies met groot leemte

"Ons dra ons innige meegevoel aan sy vrou Elsa, seun Pieter en dogter Elmri en familie oor. "

Leerlinge en onderwysers by Laerskool Roodekrans neem afskeid van ‘n legendariese adjunkhoof.

“Meneer Piet” Jansen van Rensburg, soos die leerlinge altyd na hom verwys het, is Dinsdag 2 Desember oorlede nadat hy in Wilgeheuwel Hospitaal opgeneem is en met ‘n bloeiende maagseer gediagnoseer is.

Piet het die afgelope 33 jaar van sy onderwysloopbaan aan die leerlinge van Laerskool Roodekrans gewy. Hy het voorheen ook by Laerskool Newlands skoolgegee. Meneer Piet sou op 7 Januarie sy 63ste verjaarsdag vier.

Skoolhoof Deon Rousseau het namens die skool ‘n afskeidsboodskap gegee.

“Met groot hartseer neem ons as Laerskool Roodekrans-familie van ‘n besondere man en legende afskeid,” het hy in ‘n skrywe gesê.

“Meneer Piet laat ‘n ongelooflike leemte by ons skool en in die breër Roodepoort- en Krugersdorp gemeenskap.

“Hy was verbonde aan Laerskool Roodekrans as adjunkhoof en was op alle terreine van sport, akademie en kultuur betrokke,” het Rousseau gesê.

“Hy was ook afrigter van die Goue Leeus-rugbyspan in 1994 en 1995.”

“Skoolhou was sy grootste passie, veral wiskunde.

“Ons as breër gemeenskap en duisende leerlinge wat al deur sy liefde aangeraak is, neem afskeid van ‘n fenomenale mens wat altyd in ons harte blywend sal wees,” het Rousseau gesê.

“Ons dra ons innige meegevoel aan sy vrou Elsa, seun Pieter en dogter Elmari en familie oor.

“Ons weet julle sal vertroosting van die hemelse Vader ontvang,” het Rousseau gesê.

“Dankie, Meneer Piet dat jy ons altyd herinner het om ‘op te kyk na die berge waar ons hulp vandaan kom’.

“Ons sal na jou verlang, maar jou nagedagtenis by Laerskool Roodekrans sal blywend wees, jou lesse sal ons bybly.”

Leerlinge, oud-skoliere, ouers en kennisse word genooi om hul boodskappe aan Meneer Piet se familie vir die record aan te stuur. Los ‘n boodskap per kommentaar hieronder.

Verwante artikels:

Roodekrans-hokkiebokkies is D12-wenners
Roodekrans-hoof tree na 33 jaar af
Roodies wys hul G-E-E-S

Exit mobile version