Local newsNews

Boksombende maak ‘n plan om Blikkies te help

ROODEPOORT – Die Boksombende beraam 'n plan om geld in te samel vir Blikkies se dubbele heupvervangingsoperasie.

Ná 33 jaar het die kameraadskap tussen die manne van Trompie en die Boksombende nog steeds nie opgedroog nie – veral noudat hul uitgevind het Sean du Preez, wat Blikkies in die geliefde televisiereeks gespeel het, het dringend ‘n heupoperasie nodig.

Ivan Snyman (Rooies) vertel sy goeie vriend Sean sukkel al jarelank met sy heupe. “Dis nie maklik nie want hy is al 49, hy het nie medies nie en albei sy heupe moet vervang word. Jy kan sien hy sukkel en het pyn, maar hy wys dit nie. Hy’t altyd ‘n glimlag op sy gesig, hy’s ‘n inspirasie vir my,” sê Snyman.

Skakelpersoon van die Boksombende, Pieter de Waal, vertel hoe die bende saam besluit het om ‘n trustfonds te stig om geld in te samel vir Du Preez se heupvervangingsoperasie. “Ons beoog om die operasie voor die einde van die jaar te laat doen want hy kry swaar.”

Snyman het bygevoeg, “Dis moeilik vir hom om rond te beweeg en hy moet staatmaak op ander mense om hom rond te ry en soos ek vir ou Blikkies ken, is dit nie iets wat hy baie van hou nie.”

De Waal het verduidelik die publiek kan bydra tot die fonds deur die bende se Facebookblad te besoek vir die bankrekeningbesonderhede. “Die kleinste bydraes sal die grootste verskil maak in Blikkies se lewe, so dra asseblief by. En gaan lewer kommentaar op die blad ‘Trompie en die Boksombende’.”

Details: khikka@tiscali.co.za

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button