Oranje Sakekamer sluit jaar af op ‘n hoë noot

Lede van die Oranje Sakekamer (OSK) Wes-Rand en hul families het die jaar met 'n braai by Paardekraal Monument afgesluit.

Die sakekamer is in 2009 gestig en streef daarna om die sakebelange van sy lede te bevorder binne die breëre besef dat die belang van die sakegemeenskap onlosmaakbaar van sy volk is.

Die OSK Wes-Rand spog met besigheidsmanne uit Roodepoort, Florida, Randfontein en Krugersdorp as lede. Voor die kole aangesteek is vir ‘n gesellige spitbraai is die lede meegedeel hoe wonderlik die sakekamer gedoen het teenoor ander sakekamers by die onlangse algemene vergadering in Pretoria.

Sid Mann het die lede vertel van die trofeë wat dié sakekamer onlangs by die algemene vergadering verower het. OSK Wesrand is geprys vir die grootste ledetal (hulle het tans 43 lede) en die grootste groei in ledetal in die afgelope jaar. Die Wesrandtak se besighede het in die afgelope jaar die meeste geld onder mekaar se besighede verhandel en het die effektiefste administrasie.

Elke lid het ook erkenning in die vorm van sertifikate vir sy of haar lidmaatskap gekry.

Mann het gesê dat die sakekamer beoog om volgende jaar ‘n voordelekaart bekend te stel en om moontlik dié kaart vry te stel aan alle Afrikaners.

Daarna het die feesvieringe afgeskop met ‘n skaap op die spitbraai en heerlike slaaie wat deur die Republikeinse Vrouebeweging verskaf is.

Lede van die Paardekraal Verkenners het ook saamgekuier.

Verwante artikels:

• Ons geld praat Afrikaans

Exit mobile version