Local newsNewsUpdate

Opvolg: Skool sê aikona vir ouers oor toiletklagtes

Duisende elke jaar gespandeer om beste vir leerlinge te gee.

Nadat seker ouers onlangs gekla het oor die toiletgeriewe by Laerskool Helderkruin, het die beheerligaam hulle stuiwer in die armbeurs gegooi.
“Die beheerliggaam van Laerskool Helderkruin beskou enige aantyging dat onderhoud op ons skoolterrein nie na wense is nie in ‘n baie ernstige lig. Na aanleiding van die negatiewe sosiale media is al die kleedkamers so pas by die skool ondersoek en slegs een “toilet” gevind wat buite werking is. Een uit 42 leerlingtoilette. In welke geval was die betrokke kontrakteur om die toilet te herstel reeds aangestel,” sê Pierre Rossouw, voorsitter van die beheerligaam
“Dit is belangrik om te verstaan dat die ouers van Laerskool Helderkruin jaarliks die skool se begroting goedkeur op ‘n algemene ouer- en begrotingsvergadering, so ook is alle kapitaal uitbreidings in die verlede deur ouers op die algemene ouervergaderings eenparig goedgekeur. So was ons in die bevoorregte posisie om meer as R6 miljoen – uit opgelope surplus fondse – die afgelope twee jaar te kon spandeer op ekstra klaskamers, kleedkamers, terapeute-lokale, sportfasiliteite en ‘n nuwe administrasie blok. Daar is ook aan uitgebreide e-leer geriewe, bykans R40 000 per klaskamer gespandeer. Behalwe die personeel wat die staat vir ons gee het die beheerliggaam ‘n addisionele 26 onderwysers en 11 skoonmaak- en onderhoudspersoneel in diens,” sê Rossouw.
“Die befondsing van ons skool word hoofsaaklik deur ouers en borge moontlik gemaak. Te illustrasie, die begrote staatsbydrae vir Helderkruin vir 2015 maak slegs drie per sent van die 2015 begroting uit, behalwe vir die gedeelte van die salarisse wat deur die staat gedra word,” sê Rossouw.
“Die staat betaal slegs drie algemene assistente om die hele skool, kleedkamers ingesluit, skoon te hou. Soos vroeër genoem, betaal die beheerliggaam elf addisionele personeel as hulp om alles op die terrein skoon te hou en te onderhou. Tot op datum is reeds R320 000 spandeer aan onderhoudswerk by die skool,” verduidelik Rossouw.
“Ons leerlinge by die skool se ouderdomme wissel vanaf vyf tot 14 jaar en daar sal van tyd tot tyd iewers ‘n uitdaging rondom ‘n toilet of wasbak wees. Indien daar ‘n voorval is, word dit onmiddellik aangespreek en die nodige regstellings word gedoen.
“Ons het in elke klas in die skool ‘n vloeibare sanitêre seephouer wat daagliks deur die leerders gebruik mag word.
“Omdat ons getalle steeds aan die groei is, word die begroting vir 2015 verder belas om ekstra werkers aan te stel om die terrein in stand te hou,” sluit hy af.

Related Articles

Back to top button