MunicipalNews

Die duur prys van gratis elektrisiteit?

Inwoner wil vir krag betaal maar City Power weier om te help.

Wat vir sommige ‘n gelukkige meevallertjie sou wees, is vir Mariëtte (skuilnaam) ‘n tweejaarlange frustrasie.

In 2012 het sy en haar man ‘n huis in Florida Park gekoop wat baie werk nodig gehad het. (Haar man is intussen oorlede.) Die huis het ‘n vooruitbetaalde elektrisiteitsmeter gehad wat vir hulle op daardie stadium ‘n nuutjie was. Toe die laaste gesin, wat by die vorige eienaar gehuur het, trek het hulle aan Mariëtte en haar man gesê dat daar nog ongeveer drie weke se elektrisiteit op die meter was. Die krag het eers na twee maande afgegaan. Mariëtte se man het toe alles op die kragbord afgeskakel en toe hy dit weer aanskakel het die krag wonderbaarlik aangegaan.

Hulle het besluit om R500 se krag te gaan koop om aan die veilige kant te bly maar toe hulle dit probeer oplaai, het die meter geweier om die nuwe eenhede te registreer.

Mariëtte het probeer om die probleem by die stadsraad op te los maar al haar pogings het misluk. Sonder om ‘n sent te betaal, het Mariëtte elektrisiteit gehad.

Omtrent dieselfde tyd het hulle in die kragboks voor in die straat, wat nie deure het nie, gesien dat daar met hulle krag gepeuter is. Die verdagte kragverbindings laat hulle toe vermoed dat die stelsel omseil is.

Twee dae later kom daar per toeval ‘n meterleser aan wat sy rondtes in die omgewing doen. Sy vra hom om na die kabels in die kragboks te kyk en hy beaam dat iemand die sisteem omseil het. Sy vra hom om dit aan te meld sodat hulle vir hulle elektrisiteit kan betaal maar die man sê dat hy ‘n verslag sal moet skryf. Hy tree vreemd op en sy het vir bykans twee uur met hom in haar kombuis gestaan en redekawel totdat sy uiteindelik besef het hy wou omkoopgeld hê. Sy het geweier en die man is vort.

Daarna is sy na die burgersentrum toe waar sy ‘n verwysingsnommer gekry het.

‘n Maand later daag twee meterlesers weer op en bevestig dat die sisteem inderdaad omseil is. Ook hulle skimp vir omkoopgeld en weereens het sy geweier. Die keer het hulle egter die meterleser se naam en selfoonnommer neergeskryf.

Nie lank daarna nie het ‘n ongemerkte bakkie met Noordwes-nommerplate by die huis stilgehou en die mans in die bakkie het ook gesê dat die sisteem omseil is. Toe Mariëtte en haar man na die tyd ondersoek instel was die komponent wat omseil is weg maar hulle het steeds elektrisiteit ontvang.

Van April tot Desember laasjaar het sy die stadsraad elke maand geskakel maar niemand kon haar help om die probleem op te los nie. So onlangs as twee weke gelede het City Power beloof dat hulle die probleem sou oplos maar Mariëtte sê sy wag steeds.

Sy vrees nou dat sy ‘n aanslag vir die afgelope twee jaar gaan ontvang sou City Power wel die probleem uitsorteer.

Mariëtte wou anoniem bly aangesien sy bang is dat die mans wat omkoopgeld wou hê, haar sal teister.

City Power kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Related Articles

Back to top button