Local newsNews

‘n Motor ryker danksy haar inkopies

Charlene Greyling, 27, se maandelikse inkopies het gesorg dat sy 'n splinternuwe rydingetjie kry.

Charlene Greyling, 27, is ‘n motor ryker danksy haar gereelde maandelikse inkopies by Pick n Pay in CR Swartrylaan.

Die winkelsentrum het ‘n splinternuwe Ford Figo en verskeie ander troospryse ter viering van hul agtste bestaansjaar weggegee. Om in aanmerking te kom moes Greyling meer as R500 aan inkopies spandeer en haar kontakbesonderhede agterop haar strokie skryf. Sy het die strokie soos verskeie ander kopers by die blou Ford Figo se venster ingegooi met die hoop dat sy dié motor sou losslaan.

Nadat daar 100 finaliste gekies en genooi is, is die wenners voor die winkelsentrum se deure Sondagaand 9 November aangekondig. Die 100 finaliste is uitgedun deur 20 nommers met ‘n bingo-masjientjie te trek. Saam met die motor is ses televisiestelle, ‘n splinternuwe fiets, ‘n mikrogolfoond, ‘n yskas, ‘n iPad Mini en ‘n PlayStation 3 sowel as troospryse in die vorm van skootrekenaars aan 20 gelukkige wenners oorhandig. Terwyl 15 finaliste hul pryse ontvang het is daar aan vyf finaliste koeverte met motorsleutels gegee waarvan net een sleutel in die motordeur sou pas. Greyling is die derde koeverthouer wat haar sleutel in die deur gedraai het en styf duim vasgehou het.

“Ek kon nie glo dat ek toe die een is wie se sleutel werk nie,” het sy opgewonde gesê.

“Ek was so geskok. Toe vriende en familie na die tyd oor die motor uitvra kon ek nie besonderhede daaroor gee nie, dit is nog nie realiteit vir my nie,” vertel Greyling.

Sy is ‘n besprekingsbestuurder by An African Anthology in Randburg. Haar vorige motor sal verkoop word, het sy gesê. Sy glo ook die nuwe motor sal ligter op brandstof wees.

Greyling neem die motor in gebruik op Dinsdagmiddag 11 November nadat die nodige papierwerk afgehandel is.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button