Round Table Roodepoort maak die las ligter

Die klub het twee families onlangs deur moeilike omstandighede ondersteun.

Die lede van die Round Table Roodepoortklub 162 was druk besig die afgelope paar weke.

Hulle het hulle ontferm oor twee gesinne wat dringend hulp nodig gehad het. Die manne het uitgereik na Chrissie Nel en haar familie in Witpoortjie nadat Nel vertel het van haar man se mediese worstelings. Eers moes Andries Nel se toon, toe sy voet en later sy been bo die knie afgesit word as gevolg van gangreen wat versprei het. Hy is afhanklik van ‘n afgeleefde rolstoel en loopring, en kon nie meer werk as gevolg daarvan nie. Dit het die gesin finansieel geknak, het Chrissie in ‘n brief aan die organisasie verduidelik.

“Nou moet ons net op my salaris staatmaak, en ons sorg vir ons kleinkind wie se pa oorlede is.

“Ons het agter geraak met ons huurgeld en sukkel met kosgeld,” het sy gesê.

Round Table het aan die familie ‘n rolstoel geskenk en gesorg dat die agterstallige huurgeld betaal word.

Nadat sy met voorsitter Rudi Grobler in kontak was, is Paula Beatt se gesin waarvan beide ouers tans werkloos is, ook met kruideniersware gehelp. Die families het hul dankbaarheid teenoor die organisasie uitgespreek.

“Baie gesinne gaan tans deur moeilike omstandighede en ons sit graag ‘n handjie by,” sê lid Riaan Wennick.

Die Round Table Roodepoortklub 162 organiseer gereeld fondsinsamelings en ondersteun menige ander plaaslike organisasies. Vir verdere inligting kontak die klub by 082 785 0964.

Exit mobile version