Kruiners verwerf derde plek vir avontuursport

Twee spanne dring deur na die SA-kampioenskappe in avontuursport wat in Tzaneen gehou word.

Agt leerlinge van Laerskool Helderkruin het onlangs in twee spanne derde in ‘n avontuurwedren geëindig.

Die wedren is by die Roodeplaatdam gehou en het uit verskeie aktiwiteite insluitend swem, roei, hardloop, fietsry, kettieskiet, boogskiet, vuurmaak en hoogspring bestaan.

“Elkeen het dit nie in sy karakter om hierdie uitmergelende, uitputtende sport te beoefen nie,” sê skoolwoordvoerder Isobel Mitchley.

“Avontuursport is bedoel vir mense met uithouvermoë en dit is presies wat die Kruiners gedoen het.”

Sean en Keith Whitehead, Henry Olivier, Luan Swart, Ryan Dewes, Erich Cloete, Nicole Burger en Neige Booysen het die ren aangedurf. Mitchley sê die verskillende fases van die wedren het reeds vroegoggend begin toe die navigator ‘n kaart bestudeer en die roete vir sy spanlede uitgewerk het,” sê sy.

“Daarna is die dag met ‘n 700 meter swemitem met behulp van ‘n motorbinneband afgeskop.”

Sy sê die spanlede moes daarna twee-twee in ‘n kano roei. “Die totale afstand vir die dag was ongeveer 4,2km in die roeibootjies, ‘n 7km-hardloop- en ‘n 10km-fietsryitem.”

Mitchley sê elke spanlid se vaardighede is met kettieskiet, boogskiet en vuurmaak getoets. Die dag is afgesluit met ‘n 4- m hoë sprong van ‘n wankelrige stellasie af.

“Die twee spanne het deurgedring na die SA-kampioenskappe en sal op 10 en 11 Oktober in Tzaneen daaraan deelneem.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version