Tannie Hester groet Roodepoort

Tannie Hester se trollie geparkeer.

Die tannie met die trollie, soos sy bekendstaan, verlaat Witpoortjie en sê vaarwel.

Die 77-jarige Hester van der Merwe het wyd en syd ‘n bekende gesig geword waar sy daagliks met haar trollie die dorp platgeloop het om klere te versamel. Toe die tannie se lot bekend geword het, het menige gemeenskapslede ingespring om te help.

“‘n Rukkie gelede het die gemeenskap en ons gemeente besef dinge is nie lekker nie en dat ‘n plan gemaak moes word,” sê ds Arnold Smith van die NG Kerk Witpoortjie.

“Met my en my vrou se besoek aan Steynsburg het ons toe te hore gekom van die oulike ouetehuis genaamd Onse Rust. Ons het dadelik aan Tannie Hester gedink maar besef dat daar allerlei kostes aan die hervestiging verbonde sou wees. Dis toe dat ‘n weldoener uit Australië ‘n bedrag geskenk het met die duidelike opdrag dat dit so aangewend moet word dat dit ‘n verskil in iemand se lewe sal maak,” sê Smith.

“Die NG Welsyn het toe ingespring en al die reëlings getref, ondersoeke en uiteindelik aansoek gedoen en nou kan tannie Hester in rus en vrede gaan aftree,” sê hy.

Op die oggend van 15 September is tannie Hester se hare en naels versorg en ‘n klein geselligheid is vir haar by die kerk gehou. Daarna sou Smith en sy vrou haar per motor Steynsburg toe neem.

“Ek wil dankie sê vir ‘n ieder en ‘n elk wat oor die jare vir my omgegee het. Daar is veral een man en sy gesin wat ek nie by die naam wil noem nie maar vir wie ek wil sê ‘julle is geseën’. Vir almal in die area, baie dankie,” groet tannie Hester.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version