Witpoortjie-besigheidsvrou beroof

Gewapende mans het hulle eers as klante voorgedoen.

Twee mans met 9mm-pistole het doodluiters in ‘n besigheid in Trezonalaan, Witpoortjie, ingestap en gemaak of hulle ‘n kwotasie wou kry.

Hulle het al voorheen kom rondkyk en oor ‘n kwotasie uitgevra maar Hannie Smith, die eienaar, het gesê hulle moet foto’s neem van die betrokke meubels en haar kom wys. Woensdagmiddag 10 September het die twee (gewapende) mans teruggekeer en die foto’s op ‘n selfoon vir haar gewys. Sy het na die foto’s gekyk en ‘n opmerking oor die meubels gemaak toe die een vir haar sê dat sy haar nie verder hoef te bekommer nie.

“Toe ek opkyk, kyk ek in ‘n pistool vas – die ander man het vir my personeel gesê om op die grond te lê.

“Hulle het heel eerste my karsleutels by my afgeneem en toe twee selfone. Ek is na die agterkant van my winkel geneem waar my juwele afgevat is.

“Ek is gesê om met my hande bo my kop te staan en ek maak toe so. Toe my broekspype opskuif omdat ek gestrek gestaan het, het hulle my pistool om my enkel gesien en dit ook afgevat.”

Smith sê die mans het ook ammunisie van haar lessenaar af gegaps het voordat ‘n motor buite getoet het. Die mans is uit die winkel uit en het in haar motor weggejaag.

Sy is ontsteld omdat haar aangenome dogter, 6, deur die roof geaffekteer is.

“Dit het gebeur nadat ek haar by die skool gaan oplaai het. Haar boeksak was in my motor waarmee hulle weggejaag het.

“Ek het nou ook nie vervoer om haar by die skool te kan aflaai nie en ons moes vanoggend ryloop na haar skool toe.

“Alhoewel ek ontstel en verontrief is kan hulle maar alles kry, maar hulle het nie nodig gehad om my kind se lewe te ontwrig nie.”

 

Nie ingenome met polisiediens nie

Smith is nie beïndruk met die manier waarop die polisie die saak hanteer het nie.

“Ses polisiebeamptes het winkel toe gekom na die insident.

“Ek was in skok, het verskriklik geruk en gebewe en kon nie dink nie,” verduidelik sy.

Smith is gevra vir haar wapennommer, registrasienommer van die motor en haar ID-nommer, maar sy kon dit op daardie oomblik nie onthou nie.

“Ek het van my e-tolrekeninge hier gehad en, wetend dat die ID-nommer en registrasienommer daarop sal wees het ek dit vir een van die polisievroue gegee.”

Volgens Smith het die polisievrou haar gevra, “Wat moet ek nou doen, jou e-tolrekeninge betaal?”.

Sy beskuldig die polisie daarvan dat hulle boonop op die uitkyk was vir ‘n motor met ‘n ander registrasienommer. Sy het ook vir ‘n konstabel wat blykbaar ‘n BlackBerry-selfoon gehad het, haar BBM-pinnommer gegee en gevra dat dié nommer op dié se selfoon geberg word sodat haar selfoon en ook haar motor opgespoor kon word.

“Ek is eenvoudig gesê dat sy dit nie kan doen nie.

“Hulle [die polisie] stel nie belang om die persone op te spoor of die saak op te los nie.”

Dit grief haar ook dat die ras van die mans nêrens, nie eens in die pers, genoem mag word nie maar dat die polisie op die dossier “white female” geskryf het.

“Ek het dit op die papier gaan doodkrap want ek dink nie dit is regverdig nie en ek voel dat sekere rasse geteiken word.”

‘n Saak van gewapende roof is uiteindelik by die Roodepoort Polisie gemeld.

 

Niks gekom van vorige dossiere nie

Smith was in 2010 en in 2012 ook die slagoffer van twee ander insidente – die een buite haar winkel terwyl die ander in Mayfair.

“Ek moes al voorheen voor my winkel in ‘n geweer vaskyk en daar is vier keer op my geskiet terwyl ek in my motor gesit het.

“Dit is poging tot moord, en daar het niks van die saak gekom nie.

“In Mayfair het ek drie skote met my geweer afgevuur,” het sy gesê en drie patroondoppies uit ‘n laai gehaal. Die polisie het tot vandag toe nie dié doppies kom haal of daarna gekyk nie.

Met die roof Woensdagoggend het die verdagtes met haar wapen sowel as 56 patrone weggekom.

“Mag die rowers nou maar al daardie rondtes teen ander persone gebruik. Miskien sal Roodepoort en veral die polisie dán wakker skrik.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version