Lewensvaardighede belangrik vir Roodies

Talle laerskole kom by Laerskool Roodekrans bymekaar om taal en lewensvaardighede te vier.

Leerlinge van Laerskool Roodekrans en omliggende laerskole het onlangs taal- en lewensvaardighede gevier.

Die skool het namens die distrik die Language and Life Skills Celebration 2014 aangebied. Verskeie laerskole, insluitend Dr Havinga, Jozua Naudé, Die Ruiter, Helderkruin, Roodebeeck, Culembeeck, Princess Primary, Ridgevale, Roodepoort Primary, Tulip, Lantern en Thembalethu het kom deelneem, vertel skoolwoordvoerder Marike Cronjé.

“Lehan Kruger, ‘n Graad 3-leerling, het as seremoniemeester vir ons opgetree en almal kon sien dat hy ‘n redenaar is,” sê Cronjé trots.

“Hy is ook spesiaal deur die distrik daarvoor bedank.”

As deel van die program moes skole hul leerlinge se visuele kuns uitstal. Leerlinge het ook opvoerings gedoen oor openbare veiligheid, die buiteruim en sport.

“‘n Groep Graad 3-leerlinge het ‘n gedig oor ‘n vullishoop voorgedra en die spreekkoor het ook opgetree. Die leerlinge wat daaraan deelgeneem het, het ook volgens die tema aangetrek,” sê Cronjé.

Elke junior graadgroep het iets bygedra. Graad 3-leerlinge het karre uit afvalmateriaal gemaak terwyl Graad 2-leerlinge hul eie storieboeke geskryf het, vertel Cronjé.

“Ouers van ons Graad 1-leerlinge het baie moeite gedoen met die voorbereiding van hul mondelinge toesprake wat vooraf opgeneem is en by die geleentheid gespeel is.”

Laerskool Roodekrans bedank graag al die betrokke persone vir hul bydraes by dié spoggeleentheid.

 

Exit mobile version