Editor's choiceLocal newsNews

Begraafplaas se verval ‘n dooiepunt

City Parks sloer vier jaar met vervalle ingang.

Nic Becker is nog een van daardie rare inwoners wat trots op sy dorp is maar die toestand van die Roodepoort-begraafplaas op die hoek van Olivier- en Kerkhofstraat steek hom dwars in die krop.

In 2011 het ‘n voertuig deur die Joodse tabernakel by die ingang geploeg en groot skade aangerig. Dit was natuurlik ook ‘n uitnodiging vir vandale en sluipslapers om die geboutjie verder te plunder en dit hulle tuiste te maak. Die graffiti-‘kunstenaars’ het ook nie op hulle laat wag nie. Net City Parks het nie gereageer nie.

Becker het reeds in 2012 vir City Parks gevra dat die gebou óf herstel óf gesloop word maar hy is laat weet dat aangesien die gebou ouer as 60 jaar is, dit onder die Erfenisstigting val. Becker het self die betrokke rabbi gekontak en hy het aangedui dat hulle gemeenskap nie ‘n probleem sal hê as die gebou gesloop word nie. Hy het selfs skriftelike toestemming daarvoor gegee.

Die saak het egter aanhou sloer en Becker het raadslede Willie van der Schyf (ANC), Marianne Kemp (DA) en Franco de Lange (VF Plus) genader maar dié kon blykbaar ook nie hond haaraf maak nie.

Wat verder onrusbarend is, is dat die begraafplaas te gevaarlik geword het vir mense om hulle geliefdes se grafte te besoek. In 2012 is twee besoekers aangeval en een is met ‘n mes gesteek.

Becker wys ook daarop dat ‘n ander teer punt die feit is dat baie groot geeste uit Roodepoort se geskiedenis soos Manie Mulder en AC van Wyk daar begrawe is.

“Ek is seker dat ons familielede wat rustig daar in die ou begraafplaas lê, in hulle grafte sal omdraai as hulle die toestand van die begraafplaas sou sien, ” sê Becker.

“Dit is net skokkend dat die staatsinstansies sulke verkwisters is maar dat geen aandag aan die toestande by sulke plekke van eerbied gegee word nie. Dit toon ook dat die samelewing, instandhouers en hoogs besoldigde raadslede geen respek het vir diegene wat met soveel deernis aan ons mooi stad gebou het nie,” sê Becker

“Ek persoonlik verkies om veras te word eerder as om begrawe te word op ‘n plek wat in so ‘n toestand is – nie dat dit saak maak nie,” sluit Becker op ‘n ligter noot af.

Related Articles

Back to top button