Editor's choiceLocal newsNews

Vuiste klap by rugbywedstryd

Getuies weerspreek koerant se weergawe.

Die weergawe van ‘n lelike onderonsie by ‘n rugbywedstryd wat in ‘n bekende dagblad verskyn het, is na bewering nie waar nie.

‘n Seun is volgens die dagblad so erg deur ‘n ouer bygedam dat hy drie dae in die hospitaal was. Die insident het plaasgevind net nadat die wedstryd tussen Roodepoort Rugbyklub se o.18-span en Germiston Simmers na 10 minute afgelas moes word. Volgens die seun (‘n stut) wat geslaan is het die ouer van die stut van die Roodepoort-span op die veld gehardloop en hom begin slaan.

Die ouer, wat ook die afrigter van die span is, en verskeie ooggetuies sê egter aikôna. Die pa, wat nie sy naam genoem wil hê nie aangesien daar reeds dreigemente teen hom op facebook verskyn, vertel dat hy nader gestap het om die geveg tussen sy seun en die opposisiestut stop te sit. Hy erken wel dat dit sy seun was wat die ander seun geslaan het in wat hy noem “‘n fair fight tussen twee laaities”.

Volgens een ooggetuie, Theuns Fouché, het die moeilikheid al vroeg in die wedstryd begin en skryf hy die insident toe aan swak skeidsregterskap.

“Kyk, mens wil nie die skeidsregter vir alles blameer nie maar hy het van die begin af die een strafskop na die ander teen Roodepoort gegee. Ons was naderhand nie meer seker waarvoor dit was nie,” vertel Fouché.

“In ‘n stadium is my seun geslaan en die slaner is glad nie gestraf nie. Die Germiston-ondersteuners het gejuig toe dit gebeur. Later het die stut aan die ander span se speler gesê dat hy nie die bal twee maal mag tap met die strafskop nie maar dat hy dit eers moet neersit.Die skeidsregter het toe nader gestap en die seun gestamp en gesê hy moet wegbeweeg. Toe die seun vir hom sê “he pushed first” het die skeidsregter gesê die seun het die p-woord teen hom gebruik en ‘n rooikaart gegee. Dit was die begin van die einde,” sê Fouché.

Die pa (en afrigter) het toe vir die skeidsregter gesê dat as hy nie die rooikaart terugtrek nie hulle liewer die wedstryd moet stop aangesien gemoedere toe reeds hoog geloop het.

Nadat die eindfluitjie tien minute nadat die wedstryd begin het geblaas is het die twee stutte na mekaar gestap en in ‘n vuisgeveg betrokke geraak. Twee ouers van Germiston het na bewering op die veld gestorm en links en regs begin slaan. Roodepoort se afrigter (die stut se pa) het na die bakleiers toe gestap om hulle te probeer stop. Die seun wat die pakslae gekry het, het toe beweer dat die afrigter hom geslaan het.

“Hulle het gekom om te kom baklei en noudat die seun tweede gekom het dink ek hy is skaam om te erken dit was my seun wat hom so gelooi het. Nou soek hy simpatie deur te sê die coach het hom geslaan,” sê die afrigter.

Oud-stoeier Danie Brits wat die wedstryd gesien het asook ‘n metropolisielid en twee ander ouers, Leonard Saayman en Gerhard Swart, het almal Fouché en die afrigter se weergawe bevestig.

Die afrigter wat beskuldig word moet op 2 September in ‘n verhoor van die Goue Leeus Rugbyunie verskyn.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button