Jeugpastoor is opgewonde oor die toekoms

Francois Boyce (24) vertel van sy opgewondenheid oor sy nuwe pos as jeugpastoor by AGS Florida Park-gemeente.

‘n Dinamiese jong man het onlangs by die AGS Florida Park-gemeente as die nuwe jeugbedieningsleier aangesluit.

Francois Boyce (24) vertel ‘n interessante storie van sy Christen-reis vanaf ‘n klein dorpie in die Noord-Kaap tot by Florida Park. As ‘n plattelandse seun van Jan Kempdorp in die Noord-Kaap het hy na matriek nie geweet wat hy wou doen nie.

“My pa het voorgestel ek neem ‘n jaar af en sluit by Transformation In Communities (Tics) aan. Dit is ‘n amptelike voorbereidingsinstansie wat op Christelike waardes gebaseer is en waar ek die akademiese roete gevolg het .

“Die Here het my in daardie jaar geroep om Sy werk op aarde te doen en dit is hoe my pad met dié van die bediening gekruis het.”

Na afloop van sy Tics-jaar het Boyce by die AGS se Teologiese Kollege ingeskryf en as jeugwerker by die AGS Weltevreden Park gemeente bedien. In sy finale jaar het Boyce vir Johan Heystek van die Mosaïek Gemeente ontmoet, waar hy ‘n internskap aanvaar het.

“Die span se funksie is om die diensbelewenis te beplan en dit uit te voer. Wat ‘n ongelooflike voorreg was dit nie om by hulle te leer nie!”

Uiteindelik het Boyce by AGS Florida Park uitgekom, wat hy beskryf as “‘n gemeente wat in hul gemeenskap belê en elke persoon toerus vir hul lewensreis”.

“Toe ek die pos aangebied is het ek dadelik geweet dit gaan die regte plek wees vir my. Ek het soveel vrede oor hierdie besluit en weet dat dit reguit uit die Here se hande kom.”

Boyce is enkellopend en glo sy droomvrou is nog daarbuite. Hy geniet musiek en beskryf homself as ‘n movie-holic.

“Mense met fantastiese stemme inspireer my; mense wat ‘n passie het vir dit wat hulle doen en met oorgawe deelneem, soos musikante.

“Dit is vir my heerlik om te sien hoe iemand met Jesus ‘n pad stap.

“Dit lê my na aan die hart om tieners te bedien. Nie een is dieselfde nie, hulle verander aanhoudend, wat dit vir my interessant maak.”

Francois Boyce word amptelik op Sondag 7 September om 9.30vm by die AGS Florida Park-gemeente verwelkom. Die gemeente nooi almal om die dag saam met hulle te geniet.

Vir meer inligting kontak Maryke Fouché by 083 731 6455 of per e-pos by maryke.fouche1@gmail.com.

Exit mobile version