NewsSchoolsUpdate

Dillon Taylor het ‘n kop vir syfers

Ontmoet Witpoortjie se jongste wiskunde-genie, Dillon Taylor van Laerskool Dr Havinga.

Dillon Taylor (9) is voorwaar ‘n mannetjie met ‘n kop vir syfers, sê juffrou Lizelle Kies.

Dillon is ‘n Graad 3-leerling by Laerskool Dr Havinga en hou graag die Havie-naam hoog met sy wiskundevermoëns. Hy het vroeër in Augustus aan die Mental Maths Challenge deelgeneem wat jaarliks by alle skole deur die Onderwysdepartement aangebied word. Dillon is as skoolwenner uit die Graad 3-deelnemers gekies nadat hulle in ‘n uitdunrondte meegeding het.

“Die groot dag het aangebreek en Dillon het sy bes gedoen om vinnig te werk en bo uit te kom,” sê Kies.

“Die leerlinge moes 30 somme in tien minute voltooi. Spoed en akkuraatheid is ‘n vereiste vir deelname hier.”

Dillon het eerste in die distrik geëindig nadat hy met deelnemers uit 32 skole meegeding het, onder andere uit Laerskole Roodekrans, Horison, Helderkruin, Roodebeeck en Die Ruiter.

“Daarom is dit ‘n prestasie om werklik trots op te wees,” sê Kies.

Dillon kwalifiseer nou om verder op Distriksvlak met 11 ander klusters se wenners te kompeteer.

“Ons hou styf duimvas vir Dillon!”

Related Articles

Back to top button