Boeremusiekgilde hou ‘n lekker opskop

Langarm, heerlike happies en goeie ou boeremusiek het Saterdagaand gemaak.

Die Witwatersrand-afdeling van die Boeremusiekgilde van Suid-Afrika het onlangs ‘n lekker opskop in Discovery aangebied.

Op Saterdag 16 Augustus het Boeremusiekgilde-lede van wyd en syd in die Discovery-gemeenskapsaal bymekaar gekom waar hulle musiek gemaak, geëet en gekuier het. Die Gilde hou normaalweg elke ses weke só ‘n geleentheid waar hulle hul talente, musiek en kameraadskap vier, vertel Johan Kritzinger, Witwatersrand-voorsitter.

“Hierdie geleenthede word op verskeie plekke gehou; party so vêr as die Oos-Rand en selfs in Noordwes.

“Oud en jonk word verwelkom en ons vier mekaar se wonderlike musiektalent.”

Hul grootste geleenthede vind in Mei en Oktober plaas; in Oktober sal die beste wat Gauteng het om te bied met Kaapstadse musikante meeding om die ‘beste van die beste’ onder die musikante te bepaal.

“Dit is ‘n kompetisie wat altyd in goeie gees plaasvind,” sê Kritzinger.

Saterdagaand se byeenkoms was spesiaal aangesien twee blinde musikante ook op die verhoog was. Brendan Bouwer (14) het klawerbord saam met sy orkes gespeel en daarna het Corrie Visagie saam met ‘n ander orkes konsertina gespeel.

“Enigiemand wat ‘n liefde het vir sy instrument, vir boeremusiek en vir lekker kuier kan in enige stadium by ons aansluit,” nooi Kritzinger.

Johan Kritzinger kan gekontak word by 072 614 3639.

Kyk hier na ‘n galery van foto’s van die geleentheid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version