NewsSchools

Bastion-matrikulante kóók

Bastion-matrieks se praktiese komponent in gasvryheidstudies is onlangs afgehandel met indrukwekkende geregte wat aan 'n restaurant vol gaste voorgesit is.

Matrikulante het gekóók gedurende hul finale praktiese eksamen by Hoërskool Bastion se Hotelskool en Restaurant op Woensdag (6 Augustus).

Met die hulp van Graad 11-leerlinge het die matrikulante ‘n indrukwekkende vyfgangmaaltyd in die restaurant voorgesit. Die gaste het verskeie persone ingesluit wat by die skool betrokke is, sowel as die pers en verteenwoordigers van die onderwysdepartement.

Die praktiese eksamens in die Bastion-kombuis tel as deel van die matrikulante se PAT-take, wat hul opstuurpunt in gasvryheidstudies sal beïnvloed. Gasvryheidstudies as vak word vroeër as ander vakke gedurende die matriekjaar afgehandel as gevolg van die praktiese element.

Die kelners, kelnerinne en die maître d’hôtel in die restaurant se diens was vriendelik en konsekwent, en daar was ‘n kontantkroeg. Heerlike voorgeregte, ‘n hoofgereg en ‘n smorgasbord van nageregte is aan elkeen bedien. Gaste het gesmul aan ‘n amuse-bouche (snoephappie) van kaassoufflé-en-brokkoli gevolg deur ‘n voorgereg van tamatiesop en tuisgebakte broodvingers. Daarna is ‘n tweede voorgereg van seekos-gougère (poffertjies) bedien, waarna gaste ‘n aarbei palaatverfrisser geniet het.

Hulle is later bederf met ‘n watertand hoofgereg van lam roulade en Mediterreense groente.

Die grande finalé het almal beïndruk. Aan elke gas is ‘n smorgasbord van mininageregte voorgesit wat bestaan het uit ‘n appelkoos meringuerol, crème brûlée, aarbeikaaskoek en sjokolade-mousse met gekleurde sjokolade as versiering.

Die skoolhoof, dr Prinsloo het gesê dat hulle “nooit aandete nodig het” na só ‘n geleentheid nie, en die leerlinge het beslis nie teleurgestel nie.

Sien ‘n gallery van foto’s van die geleentheid hier.

Related Articles

Back to top button