R30 000 se bulhonde vergiftig

Stoep glo met Two Step besaai.

Die Wright-gesin van Dorisstraat se week het op ‘n hartseer noot begin.

Toe Jaco Wright omstreeks 7.30vm Maandagoggend (11 Augustus) uit sy huis kom is hy met ‘n wrede gesig begroet. Drie van sy vyf Engelse bulhonde het in die voorerf dood gelê. Wat dit wreder maak is dat die twee tefies dragtig was.

Volgens Wright se vrou, Hilda Wright, was die erf en stoep besaai met die bekende gif Two Step wat in toiletpapier toegedraai is en in klein stukkies vleis versteek was.

“Die hele stoep was vol van daardie silwer balletjies,” sê mev Wright.

Boonop was die drie vergiftigde honde geregistreerde Engelse bulhonde en bykans R8 000 elk werd.

“Hoeveel hulle in geld werd is maak nie saak nie. Ek sou liewers dat die kriminele iets steel, soos een van die motors wat in die erf staan,” verduidelik sy.

Die kriminele het egter niks gesteel nie wat heel waarskynlik aan die twee oorlewende honde te danke is. Die Wrights het drie van die honde in die voorerf aangehou en twee in die agtererf.

“Ons vermoed dat hulle nie geweet het van die twee honde agter nie en toe hulle oor die muur wou klim wat die erf skei het die agterste twee honde hulle geskraap en hulle laat spaander,” sê sy.

Mev Wright is nou bekommer dat die skurke die hele Horizon View gaan teiken en meer honde gaan doodmaak. Sy vra dat ander honde-eienaars op hulle hoede moet wees.

Exit mobile version