Roodie droom van die Bulle

Behaal driekuns in laaste wedstryd.

Johan Venter, ‘n Graad 10-leerling van Hoërskool Roodepoort, droom daarvan om eendag vir die Blou Bulle as buitesenter uit te hardloop.

Jong Johan mag maar droom.

Hy is onlangs verkies tot die Afrikaner Volkseie Sport (AVS) se nasionale o.16-toerspan, ook bekend as die Presidentspan. Wat die prestasie so spesiaal maak is dat uit die 1 320 spelers wat aan die Bokkie-reeks deelgeneem het, is Johan die enigste Gautenger in sy ouderdomsgroep wat gekies is.

Spanne van al die provinsies het aan die reeks deelgeneem.

Johan is ‘n skugter jong man en sy ma sê al het hy ‘n driekuns in die laaste wedstryd van die Bokkie-reeks behaal, is hy baie nederig. Die keurders het ook genoem dat nederigheid een van Johan se sterkpunte is.

“Hy doen dit vir die game, nie die fame nie,” sê sy ma Marietjie Venter.

Ander skole het ook al by hom kom flikkers gooi maar Johan bly lojaal teenoor sy skool.

Die toerspan vertrek binnekort na Oos-Europa waar hulle onder andere teen Georgia gaan deelneem. Die toer gaan Johan R28 800 kos en hy en sy ouers sal donasies en ondersteuning van die publiek baie waardeer.

Die span vertrek op 3 Oktober op die 10-dae toer.

As enige iemand Johan finansieel wil bystaan kan hulle sy ma kontak by 084 580 8884.

Exit mobile version