Maranata boodskap weer duidelik

Die Maranata-boodskap op Roodekrans-koppie, 'Jesus kom', is netjies herstel en geverf.

Die Maranata-kruis en gepaardgaande ‘Jesus kom’ boodskap op ‘n Roodekrans-koppie is weer duidelik sigbaar.

Dit is danksy die harde werk van Stephen Liebenberg en ander vrywilligers nadat die instandhouding van die kruis agterweë gebly het.

“In September verlede jaar het ons ons werk op die koppie gestaak weens omstandighede buite ons beheer,” vertel Liebenberg.

“Ongelukkig is daar tot in Januarie vanjaar geen onderhoud gedoen nie maar nadat ons die betrokkenes geraadpleeg het, is die werk hervat.”

Die toegegroeide area is met harde werk en inspanning skoongemaak, het hy gesê, en die kruis en letters is oorgeverf.

“Baie sal daarteen beswaar maak maar dit is nie vir ons van belang nie.

“Die Heilige Skrif leer ons duidelik dat elke oog Jesus op die wolke sal sien, en dat elke knie voor Hom sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

“Wat ‘n groot en ontsagwekkende verantwoordelikheid is daar nie op almal wat die boodskap op die koppie lees nie om hulself voor te berei want waarlik, Jesus kom.”

Exit mobile version