Oom Dawie vier 102 wonderlike jare

Na sy kinderlewe in die Noord-Kaap het Oom Dawie na Johannesburg verhuis.

Dawie Louw, oftewel Oom Dawie, het sy 102de verjaarsdag Saterdag (19 Julie) tussen sy kerkmense gevier.

Sy eintlike verjaarsdag is eers op 28 Julie, “maar daar’s net te veel partytjies om te hou,” vertel sy vrou, Bets. ‘n Groepie lede van die NG Kerk Roodepoort-Noord het Saterdag ‘n koek-en-tee-geleentheid vir hom in die kerksaal gehou.

“Dit is ons altwee se tweede huwelik en ons vier ook ‘n gelukkige 35 jaar saam,” sê Tannie Bets. Sy gee verdere inligting oor Oom Dawie se lewe.

Oom Dawie is op 28 Julie 1912 gebore op die plaas Bakoven in Williston in die Noord-Kaap. Hy het sy eerste skooldae spandeer op ‘n aangrensende plaas, Wielkolk.

“Hy en sy jonger broer Das het gedurende die week daar geloseer en is naweke per donkiekar terug huis toe,” sê sy.

“Das sal op 4 September sy 100ste verjaarsdag vier.”

Oom Dawie se oupa het vir elk van sy seuns, insluitend Dawie se pa, ‘n plaas gegee, en Oom Dawie het op Wit-Izak grootgeword. Hy het later op Williston skoolgegaan en by sy afgetrede grootouers gewoon. Hy het vir Calvina se skool begin rugby speel en later vir die dorpspan.

“Sy foto het ook in die museum daar gehang,” vertel Tannie Bets.

“Nadat hy gematrikuleer het, het hy Johannesburg toe getrek en vir die spoorweg gewerk totdat hy afgetree het.

“Ons het ons geluk hier gevind in ons ontmoeting.”

Exit mobile version