Inbrekers stroop huis rustig

Gesin derde keer in 'n jaar geteiken.

Witpoortjie loop steeds daagliks onder erge misdaad deur en daarvan kan die Mulder-gesin getuig.

Die Mulders se huis is Donderdag (17 Julie) tussen 9vm en 3nm van verskeie waardevolle items gestroop.

Roelf Mulder vertel: “Ons bediende is siek en my vrou het vanoggend omstreeks 9vm die huis verlaat om Pretoria toe te gaan en ek was reeds by die werk. Sy het nog per ongeluk die alarm laat afgaan en die sekuriteitsmaatskappy laat weet dat dit sy was. Daarna is sy weg en met haar terugkeur vanmiddag het sy die huis so gevind,” beduie ‘n moedelose Mulder in die binneshuise teater waar byna net die televisierakeenheid oor is.

“Ons vermoed dat die diewe die sleutels deur die veiligheidshek in die televisiekamer met die swembadbesem nader gehark het en so binnegekom het.

“Ons dink ook dat hulle een van die afstandbeheereenhede gevind het en hulle voertuig so ingelaat het. Hulle kon dus rustig die goedere uitdra en laai,” sê Mulder.

Wat hulle op die oog af kon sien weg is sluit in ‘n reuse plasma-televisiestel, nog twee kleiner plasma-televisiestelle, luidsprekers, ‘n klankversterker, twee dvd-spelers, verskeie kompakte skywe, ‘n duur horlosie, ‘n digitale kamera, ‘n klein hoëtroustel en ‘n onbepaalde bedrag kontant. Verder is daar ook linnegoed en twee kussings van die sofa gesteel, waarskynlik om die toestelle te beskerm.

Mulder sê die misdaad maak hom moedeloos aangesien sy vrou se motorfiets Augustus 2013 gesteel is en ‘n sleepwaentjie in Maart vanjaar.

Indien enige iemand inligting het oor die voorval kan hulle kontak by 083 407 0304 of 083 448 3057.

Exit mobile version