Thristan (9) het hom

"Jy gee nie op as jy regtig iets wil hê nie," sê Thristan.

Die eerste ding wat Thristan Cronjé (9) vir haar ma oor die foon gesê het was “Mamma, ek het hom”.

Thristan en haar pa Danny Cronjé het verlede naweek (Saterdag 12 Julie) gaan jag op ‘n plaas net buite Secunda. Die plaas is sowat 50 hektar groot.

Thristan is ‘n leerling by Laerskool Helderkruin en droom al lank om eendag sélf ‘n bok te skiet.

Saterdag was dié droom bewaarheid.

“Sy het haar bok op 105 meter platgetrek met net een skoot,” vertel ma Thana Cronjé.

“Hulle het die hele dag rondgeloop en -gekruip agter dié bok aan.”

Thristan het ‘n Remington 22-250 WIN-geweer gebruik en ‘n ooi van sowat 32kg platgetrek.

Cronjé vertel dat haar dogter van jongs af ‘n rabbedoe is wat graag boomklim, rugby vir die skool speel en nou jag.

“Sy het gesê, ‘Mamma, jy gee nie op as jy regtig iets wil hê nie’,” het die ouer trots vertel.

Exit mobile version