EntertainmentLifestyleLocal newsNews

In kulkuns is André tops

Oëverblindery is sy gunsteling tydverdryf, vertel André.

Al probeer jy kophou sal André Hermanus, 53, jou laat glo dat hy jou kop kan lees.

Die record het verlede Saterdagmiddag (5 Julie) met dié plaaslike kulkunstenaar probeer byhou. In ‘n koffiekroeg in Weltevredenpark het hy selfs die kelnerinne beïndruk met sy muntstuktruuks. Toe hy ‘n R20-noot vou en daar met die oopvou ‘n R200-noot te voorskyn kom wat hy vir ‘n kelnerin gee, was haar gesigsuitdrukking pure ongeloof. Hy het ‘n vrou gevra om een woord uit ‘n tydskrifartikel te onthou en sonder om hard te dink het hy soos blits dieselfde woord op ‘n stukkie papier vir haar neergeskryf.

“Dit is eintlik net oëverblindery en profiling,” vertel hy toe sy klein gehoor verdaag.

Hermanus stel in die kulkuns belang sedert hy sewe jaar oud was. Hy het ‘n boek daaroor by ‘n biblioteek uitgeneem en elke truuk probeer leer.

“Maar soos wat ‘n kind is, het my belangstelling gekom en gegaan – en dit is nie asof ek destyds op die internet daaroor kon oplees nie.”

Hermanus vertel dat die enigste kulkunstenaars waaraan hy as kind blootgestel is David Copperfield en die Suid-Afrikaanse Martino was wat hy op televisie gesien het.

“Ek was vas oortuig dat mens net sulke goed uit boeke kon leer en het dit opsy geskuif.”

Hermanus het ‘n BCom in besigheidsadministrasie by Unisa voltooi. Dit is eers in 1987, toe hy 26 was, dat towerkuns hom weer aangetrek het. Hy het by die Art in Magic-kulkunsgemeenskap (Johannesburg) en die International Brotherhood of Magicians (IBM) aangesluit en dit as ‘n stokperdjie beoefen.

“Ek het maar stadig gevorder en eers later besef dat ek kulkuns by ander kon leer.”

In 2002 het Hermanus die voorreg gehad om Martino te ontmoet, het hy gesê, by wie hy geleer het om kulkunsies en kulkunsfilosofie uit te ruil en te bespreek.

Kulkuns is ‘n teatrale kuns

Hermanus sê dat kulkuns vir hom teatraal is. Kulkuns het spesifieke beginsels, vertel hy.

“Dit is ‘n magiese kombinasie van wetenskap, sielkunde, oëverblindery en drama; jy beskik oor digitale behendigheid.

“Dit is ‘n bedrieëry; jy skep die onmoontlike binne die raamwerk van vermaak.”

Persoonlik verkies hy muntstuktruuks en mentalisme – “om met jou kop te smokkel,” vertel hy laggend. Om te kon aansluit by verskeie kulkunsgemeenskappe, onder andere die Oos-Randse Magic Society en Johannesburg Magic Circle, moes Hermanus uithaal en wys. Hy het ook aan kompetisies deelgeneem (wat eenkeer elke drie jaar plaasvind) en konvensies bygewoon waar internasionale kulkunstenaars opgetree het.

“Jy kan nie na die Wêreldkampioenskappe toe gaan sonder om aan so ‘n gemeenskap te behoort nie.”

Hermanus ondersteun en bewonder jong internasionale kulkunstenaars soos Dynamo en Criss Angel.

Hy het uiteindelik besluit om dit sy beroep te maak en het al by verskeie besigheidsfunksies regoor Johannesburg, insluitend ‘n Rocci-geleentheid opgetree. Hy het ook al by Montecasino en Silverstar opgetree. Hy vertel graag hoe hy ‘n “post mortem” na elke optrede hou om te sien watter uitwerking die truuks gehad het en of hulle gepas was.

“Elke keer heg jy ‘n stukkie van jouself by die truuks.

“Probeer dit – maar moenie dink jy gaan dadelik regkom nie.”

Related Articles

Back to top button