Deftige diewe beroof bejaarde

Diewe vort met kontant en juwele.

Mac Genade, 84, was eergisteroggend (25 Junie) besig in die tuin op haar sypaadjie in Sir George Graystraat toe ‘n wit motor langs haar stilhou.

Een van vier baie deftig geklede vroue het uit die motor geklim en gevra of sy weet van ‘n vrou wat in die straat woon en troukoeke bak aangesien haar (die deftige vrou se) suster binnekort gaan trou. Genade het aan haar gesê dat sy nie van so iemand weet nie toe die ander drie vroue ook uit die motor klim.

Een van die drie het aan haar gesê dat sy dringend die toilet moet gebruik en gevra of sy die badkamer in die agtererf mag gebruik, waartoe Genade ingestem het. Die vrou het toe agter toe gestap terwyl die ander drie vroue geselsies met Genade aangeknoop het.

Na ‘n ruk het hulle na die vrou in die badkamer geroep en twee van hulle het die erf ingestap. Genade sê dat sy toe begin lont ruik het. ‘n Wyle daarna het die drie vroue teruggekeer, haar bedank en vertrek.

Toe Genade in haar slaapkamer kom, het sy gesien dat die hangkaste se deure oopstaan. Sy sien toe dat twee van haar diamantringe sowel as twee van haar goue ringe weg was. Daar het ook kontant van R2 600 uit haar handsak verdwyn wat voor die bed gestaan het.

Volgens Genade wil dit vir haar voorkom of die vroue geweet het dat daar niemand in die huis was nie anders sou hulle nie hulleself so doodluiters gehelp het nie.

Genade wil graag ander inwoners, veral bejaardes en mense wat alleen by die huis is, waarsku om op die uitkyk vir die vroue te wees en nie vir dieselfde slenter te val nie.

Sy het die saak by die polisie aangemeld en wil graag die twee polisielede wat na haar woning gekom het bedank vir hulle goeie diens.

Exit mobile version