Boerboel in Witpoortjie vergiftig

Dit blyk dat honde vergiftig word om motorfietse uit erwe te steel, sê Van Zyl.

‘n Boerboel is laat Maandagaand (16 Junie) in Adam Tasstraat, Witpoortjie vergiftig.

Eienaar Ina Herbst het hartseer vertel hoe sy haar geliefde Boerboel-teef gisteraand siek in die erf gekry het.

“Sy het nie lekker gelyk nie, sy het nie baie beweeg nie en haar maag was geswel,” het sy gesê.

Sy het haar hond, wat al 10 jaar lank haar huisgesin veilig hou, Dinsdagoggend dood in die erf aangetref. Herbst het onmiddellik die buurtwag geskakel, wat die polisie ingelig het. Die drie ander honde op die erf, waarvan een ‘n pitbull is, is nie beseer of vergiftig nie.

Herbst glo die boewe was agter haar seun se motorfiets aan, wat gewoonlik in daardie gedeelte van die erf parkeer word. Die gesin het gelukkig die motorfiets Maandagaand elders parkeer, het sy gesê.

“Mens weet nooit of hulle beplan om vannaand terug te keer nie,” het ‘n polisieman op die toneel gesê en die gesin gewaarsku om op die uitkyk te wees. Hulle is aangeraai om beide die buurtwag en sektorpolisie te skakel sou hul enigiets agterdogtig opmerk.

Herbst vermoed die hond is met Two Step vergiftig, ‘n skoonmaakmiddel wat gereeld gebruik word om diere te vergiftig.

Volgens die West Suburbs Roodepoort Neighbourhood Watch (voorheen Witpoortjie Block Watch) word honde in die area af en toe vergiftig.

“Dit lyk my dit duik nou weer op waar hulle motorfietse in die erf sien,” het woordvoerder Frik van Zyl gesê.

Twee honde is verlede jaar in Augustus in Witpoortjie vergiftig om ‘n motorfiets te steel.

Exit mobile version