Pastoorsegpaar byna slagoffers van rooftog

Rowers roof eetplek nonchalant.

Die pastoorsegpaar Dawie en Maureen Ludick was verlede Sondag (8 Junie) op pad terug van die kerk af toe hulle besluit om wegneem-pizza by Scooters in Wilropark te koop.

Dit was net na 7nm toe mev Ludick haar bestelling plaas en die kassiere vra om asseblief die pizzas na die motor te bring. Aangesien mnr Ludick onlangs ‘n hartoperasie gehad het was mev Ludick in die bestuurdersitplek.

Die Ludicks het gesien hoe ‘n man en vrou by Scooters instap en kort daarna weer uitstap. Volgens werknemers was dit die tweede maal die aand dat die paartjie ingekom het; eers om te vra of hulle lugtyd verkoop en toe of hulle tee bedien.

Mev Ludick het haar man impulsief gevra hoe om die motor te sluit, wat sy toe gedoen het.

‘n Taxi het by die klein winkelsentrum stilgebou en drie mans het saam met die paartjie die winkel ingegaan. Die Ludicks kon sien hoe van hulle agter die toonbank inbeweeg en sy het haar man gevra of hulle nie dalk besig was om die restaurant te beroof nie. Hy het dit egter afgemaak as vriende van die Scooters-werknemers.

Die volgende oomblik het twee van die mans na hulle motor aangestap gekom en toe die een by mev Ludick se venster kom, het hy ‘n pistool uitgehaal. Mnr Ludick het haar dadelik aangesê om voet in die hoek te sit. Die man met die pistool het probeer om die ruit te breek maar kon nie daarin slaag nie. Met die wegtrekslag het die ander man voor die motor gaan staan, blykbaar met die hoop dat die Ludicks sal stop maar sy moed het hom begewe toe hy sien dat mev Ludick nie gaan rem nie.

Die Ludicks het vinnig gedink en na die motorhawe oorkant die pad gejaag waar hulle verskeie sekuriteitsbeamptes ingelig het oor die roof. Die rowers was egter klaar weg met die aansienlike bedrag kontant en selfone wat hulle gebuit het.

“Dit is ongelooflik hoe nonchalant en doodluiters hulle was. Aanvanklik het ek glad nie besef dat ‘n rooftog reg voor ons oë afspeel nie,” sê mnr Ludick.

“Dit was net ‘n bestiering van die Here,” voeg sy vrou by.

Eienares van die Scooters, Ann Tournois, is self geskok oor die insident maar verseker die publiek dat stappe gedoen is om die sekuriteit te verskerp. Sy het ook by Roodepoort Polisiestasie gereël dat haar werknemers berading ontvang.

“Bo en behalwe die reeds bestaande sekuriteit het ons ook ons sekuriteitmaatskappy aangesê om meer gereeld te kom patrolleer. Hierdie is egter ‘n waarskuwing aan die publiek om altyd presies te weet wat rondom hulle gebeur,” sê Tournois.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version