Local newsNews

Kruiner-broers haal Goue Leeus Cravenweekspanne

"Ek is die trotsste pa in die wêreld."

Hulle is dalk nie die ervare Bakkies Botha en Victor Matfield nie maar dié Blou Bulle slotkombinasie se bynaam, die Blood Bothers het beslis betrekking op Dian en Dayton de Jongh.

Albei dié jong manne in die voorry van Laerskool Helderkruin se eerstespan is onlangs onderskeidelik in die Goue Leeus se o.12 en o.13 Cravenweekspanne opgeneem.

Dian sal die o.12-span en ouboet Dayton die o.13 Cravenweekspan verteenwoordig. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat Dayton die Cravenweekspan haal nadat hy verlede jaar vir die o.12’s gekies is.

Die De Jongh-broers is albei ook lede van die skool se eersterugbyspan, beter bekend as die Kwaggas wat vanjaar die liga onder leiding van Dayton gewen het.

Hul pa, Dawie de Jongh is in die sewende hemel oor sy seuns se prestasies.

“Met twee kinders wat albei reeds op laerskoolvlak provinsiale kleure vir rugby verwerf het, is ek beslis die trotsste pa in die wêreld,” sê De Jongh senior.

“Ons gesin se passie is rugby, en hierdie is iets wonderlik om saam met my seuns te kan ervaar. Hulle het baie talente ontvang, en ons is dankbaar dat hulle daarmee woeker en altyd hulle beste gee. Dit is egter baie belangrik dat die seuns elke oomblik daarvan geniet,” voeg hy by.

Dayton is boonop ‘n vurige Leeus-ondersteuner terwyl Dian ‘n gebore Haai-ondersteuner is. Albei wil ook eendag graag vir die Springbokke speel.

In totaal spog Helderkruin met vyf leerlinge wat Cravenweek-spanne gehaal het.

Behalwe Dayton is Wian Steenkamp en Aiden Roberts ook in die Goue Leeus se o.13 Cravenweekspan ingesluit terwyl Blain Jacobs die Goue Leeus se o.13 vyftiental gehaal het.

Die o.13 Cravenweekspan toer van 29 Junie tot 4 Julie in KwaZulu-Natal. Hul eerste kragmeting is teen die einste tuisspan, die Haaie op Maandag 30 Junie om 2.30nm. Die o.12 Cravenweekspan toer ook in die provinsie maar is in Vryheid van 26 tot 28 Junie.

Hul pak heel eerste hul Jukskei-vyand, die Blou Bulle om 2nm.

Die Goue Leeus se Cravenweekspanne gaan gedurende hierdie toere ook teen ander provinsies soos die Valke, Pumas, Luiperds, Westelike Provinsie (WP) en Boland te staan kom.

Related Articles

Back to top button