Raadslid stap saam vir kinder- en vroueregte

JOHANNESBURG - Vryheidsfront Plus Stadsraadslid veg vir die regte van kinders gedurende kinderbeskermingsweek.

Die intensiewe bewusmakingsveldtog tydens die landswye kinderbeskermingsweek verander nie die intensiteit en toename van misdade teen vroue en kinders nie, sê Amanda de Lange, stadsraadslid van die VF Plus in Mogale City nadat sy Maandagoggend aan so ‘n optog deelgeneem het. Saam met haar het lede van die Kinderbeskermingseenheid, Lifeline, Teddy Bear Clinic, Mogale City Sosiale Ontwikkeling en die VF Plus Nasionale Vrouekomitee gestap.

“Daar is op verskeie punte bymekaargekom en ons het na die Thuto Lefa Skool in Munsieville gestap saam met ‘Ronnie die mascot’. Dit is so ironies dat terwyl ons hier saamstap om ons kinders en vroue te beskerm, verskyn ‘n ma van driemaande-oue tweelingseuntjies in die Vuwani-landdroshof omdat sy een van haar babas met ‘n byl doodgekap het.” Lede van die gemeenskap het daarin geslaag om die ander seuntjie te gryp voor die ma dié baba ook kon aanval.

De Lange, ook die nasionale voorsitter van die party se vrouekomitee, meen daar is soveel organisasies wat die beskerming van vroue en kinders op die hart dra, maar die uitvoerbaarheid en bestuur van die wetgewing skiet ver tekort.

“Artikel 28 van die Grondwet omskryf die beskerming van die kind. Die doel van Artikel 28 is om te verseker dat kinders in ‘n veilige omgewing grootword en daar behoorlik na hulle omgesien word. Nieteenstaande wetgewing en honderde maatskaplike organisasies, is verwaarloosing en mishandeling van kinders aan die orde van die dag en groei die syfer steeds. Babas word deur hul ma’s weggegooi, op ashope en publieke toilette gelos of selfs soos onlangs in die media berig, op ‘n hoofweg gelaat om deur voertuie raak gery te word.”

“Die VF Plus se Nasionale Vrouekomitee gaan vanjaar onder andere fokus op vroue- en kinderregte. Daar moet sinvolle oplossings gevind word en die toepassing van wetgewing sal heelwat opgeskerp moet word.”

“Ons kan nie langer sit en toekyk hoe kinders en vroue vermoor, verkrag en mishandel word nie”.

Sy het ook hulde gebring aan elkeen wat aan hierdie veldtogte deelneem asook gemeenskappe wat help om ongerymdhede en misdaadsituasies in hul omgewings bloot te stel.

Die dienste en betrokkenheid van polisielede, maatskaplike werkers, regeringsorganisasies, vrywilligers wat alles in die stryd werp om die lewe van ons vroue en kinders te verander en beter te maak, is waardevol.

Volgens De Lange sal daar indringend na die lisensiëring en moniteringprosesse van sorgsentrums vir babas en kleuters gekyk moet word.

“Die werklikheid is dat toenemende voorvalle van mishandeling van babas en kleuters in dagmoeders se sorg sowel as ‘plekke van veilige bewaring’ soos in die geval van Jedi-Daya in Rustenburg, die keuringsproses moeiliker en meer gekompliseerd kan maak vir voornemende versorgers wat werklik net kinders se beste belange op die hart het.”

De Lange sê dat plaaslike regerings beter beheer en monitering van versorgingsinstansies moet toepas. Dit beteken dat daar daadwerklike oplossings en voorstelle van nasionale regering se kant moet kom.

Die Vryheidsfront Plus se Nasionale Vroue-vleuel beoog om so dringend moontlik ‘n bespreking op nasionale regeringsvlak te bewerkstellig om die kwessie rondom mishandeling van vroue, en veral kinders, in Suid-Afrika aan te spreek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version