Ons geld praat Afrikaans

Die Oranje Sakekamer se missie is om Afrikaners op ekonomiese gebied saam te bind.

Die algemene konsensus by verlede Woensdagaand (21 Mei) se Oranje Sakekamer (OSK) Wes-Rand vergadering was dat dié manne se geld Afrikaans praat.

Die Sakekamer bestaan uit entrepreneurs van regoor die Wes-Rand wat in verskeie industrieë handel dryf. In beginsel werk hulle om Afrikaners op ekonomiese gebied saam te bind.

“Ons werk om die sakebelange van ons lede te bevorder binne die breëre besef dat die belang van die sakegemeenskap onlosmaakbaar van sy volk is,” sê voorsitter Lucas Mc Donald.

Volgens Mc Donald vergader die Sakekamer, wat tans met 44 lede spog, een keer ‘n maand waartydens gassprekers die lede gereeld toespreek. Tydens Donderdag se vergadering het Ben Geldenhuys en Jan Beyers (albei stigterslede) met die sakemanne gesels oor belasting, werknemersvoordele en fondsinsamelingsprojekte.

Die Oranje Sakekamer funksioneer onder die oorkoepelende Oranje Sake Instituut (OSI). Die Wes-Rand tak is in 2009 gestig en lede dryf handel onder mekaar om sodoende die lede ekonomies te bevoordeel. Mc Donald het tydens die vergadering gesê dat daar in April transaksies van R104 000 onder mekaar gedoen is en dat die syfer vir Mei reeds R213 110 was. Die Wes-Rand tak het tot dusver in 2014 transaksies van oor ‘n miljoen onder mekaar gedoen. Lede word die geleentheid gegee om hul besighede se spesiale aanbiedinge by die vergaderings te bemark.

Hulle volgende vergadering is op Woensdag 18 Junie om 7nm by die Afrikaanse Protestante Kerk in Corletlaan, Witpoortjie. Vir meer inligting oor die Sakekamer skakel gerus vir Lucas Mc Donald by 082 552 9403 of kontak hom per e-pos by lukas@12n.co.za.

Exit mobile version