NewsSchools

Bastion se Top 10-musiekvideo’s op kykNET

Glaskas se Bring maar nog die skool se gunsteling.

Hoërskool Bastion het ‘n filmstel geword toe dié skool gekies is om deel te neem aan die gewilde Afrikaanse DStv-kanaal kykNET se Skole Top 10 musiekprogram.

Skole Top 10 is ‘n program wat hoërskole regoor Suid-Afrika die kans bied om hulle tien gunsteling plaaslike musiekvideo’s te laat beeldsend (kyk na Bastion se Top 10 heel onder). Die program is daarop gemik om skole se musieksmaak, kreatiwiteit en gees ten toon te stel.

Die verfilming van die program het amptelik op Dinsdag 20 Mei in en om Bastion se skoolterrein plaasgevind. Dit was ook die eerste keer dat dié Witpoortjie-skool by so ‘n produksie betrek is.

Die tema was ‘n vliegtuigrit deur Bastionland. Altesaam 10 video’s is opgeneem sedert produksie om 8vm begin en omstreeks 4nm geëindig het.

Verfilming is by die hotelskool, in die saal, op die sportveld, in die tegniese sentrums en selfs in die vlei buite die skool gedoen. Mnr en Mej Bastion is bekendgestel, groeplyndansers het opgetree en die Graad 12-dramagroep het mimiek gedoen. Die hele skool het die kreet gegee, die skoollied gesing en gees gevang.

“Dit was vir ons ‘n voorreg om deel te kon wees van so ‘n produksie. Vir die leerlinge asook die personeel was dit interessant om ‘n kykie agter die skerms tydens televisie-opnames te kry,” sê Bastion se bemarker, Melitta Geyser.

“Dit was ook vir leerlinge ‘n geleentheid om by iets anders betrokke te wees as net skoolgaan, alhoewel die skoolprogram normaal voortgegaan het.”

Die eindproduk word op 4 Augustus om 5nm op DStv-kanaal 146 gebeeldsend.

Bastion se Top 10 plaaslike musiek is as volg:

10. Charlize Berg se Halo, Halo

9. Johan C Venter se Ek is mal oor jou

8. Kurt Darren se Rebel en rats

7. Gerhard Steyn en Anais se Wie’t gesê liefde’s blind

6. 4 Werke se Roete na jou hart

5. Dans dans Lisa se Die ouer ek

4. Gangs of Ballet se Don’t let me go

3. ‘Polisiekarre’ se Hemel op die platteland

2. Parlotones se Sleepwalker

1. Glaskas se Bring maar nog

Bastion-lyndansers tydens 'n opname deur kykNET.
Bastion-lyndansers tydens ‘n opname deur kykNET.
Wie't gesê dis maklik om voor 'n kamera gesig te wys. Hier lag twee leerlinge van Bastion tydens 'n opname.
Wie’t gesê dis maklik om voor ‘n kamera gesig te wys. Hier lag twee leerlinge van Bastion tydens ‘n opname.
Groeplyndansers van Bastion luister na wat die kykNET-kameraman te sê het.
Groeplyndansers van Bastion luister na wat die kykNET-kameraman te sê het.

Related Articles

Back to top button