Editor's choiceLocal newsNews

Pa van Davidsonville sterf op 82

Gemeenskap in rou na dood van Mnr Mackonie – hul Daddy.

Die gemeenskap van Davidsonville is in rou gedompel na die dood van John Henry Mackonie, ‘n vaderfiguur in die gemeenskap.

Mnr Mackonie, of Daddy soos die gemeenskap hom ken, is Sondag 27 April 2014 op 82-jarige ouderdom skielik in die Netcare Krugersdorp Hospitaal oorlede.

Samantha Demas, wat ook ‘n Kommissaris van Ede in Davidsonville is sê, “Mackonie is voor 2nm weens natuurlike oorsake dood verklaar”.

Begrafnisreëlings is vir eerskomende naweek in Davidsonville getref.

Demas beskryf Mackonie as iemand op wie se knoppie jy altyd kon druk.

“Hy was ons gemeenskap se pa en iemand met ‘n teenwoordigheid – ons kleinkinders se oupa, ons kerk se predikant, iemand wat veg vir dit wat reg en verkeerd is, wat trots op sy taal en agtergrond was, wat lief was vir sport en kinders, ‘n onderwyser en ‘n man wat groot respek gehad het vir vroue,” het Demas gesê.

“Hy sal beslis ‘n groot leemte laat en ons gaan hom baie mis.”

Demas voeg by dat Mackonie gedurende die apartheidsjare se swaarkry die een was wat vir sy mense in die bres getree het.

“Daar was baie mense wat nie identiteitsdokumente gehad het nie en kinders wat nie eers by skole kon inskryf nie. Daddy was die persoon wat alles uitgesorteer het en elke uitdaging die hoof gebied het.

“Hy was beslis ‘n liefdevolle mens en het ‘n groot hart gehad. Ons vroue en dogtertjies sal hom vir altyd onthou vir sy warm persoonlikheid, veral wanneer hy ons met ‘Hey my dingetjie hoe gaan dit?’ gegroet het.”

Mackonie laat sy, vrou Susan; nege kinders, 17 kleinkinders, drie agterkleinkinders en talle vriende agter.

Mnr Mackonie se lewensverhaal:

• Hy is op 13 Maart 1932 in Pretoria gebore en het sy laer- en hoërskoolopleiding daar ontvang. Daarna het hy vir twee jaar aan die Transvaalse Opleidingskollege vir Kleurling- en Indiëronderwysers gestudeer.

• In 1951 kwalifiseer Mackonie as onderwyser.

• Hierna het hy gaan onderrig gee maar steeds verder gestudeer totdat hy sy Hoër Onderwysdiploma verwerf het.

• Sy eerste pos was by Gold Street Indian, daarna Barberton Indiër- en Kleuterskool, toe in Nelspruit en weer na Waterval-Boven waar hy as waarnemende hoof van ‘n viermanskool aangestel is.

• Aan die einde van 1953 is hy by Roodepoort Primêr in Davidsonville aangestel. Hier is hy tot A-onderwyser bevorder en toe weer tot senior onderwyser, en het later Departementshoof vir Bybelkunde geword.

• In 1979 is hy bevorder tot adjunkhoof by Wilhelmina Hoskins Primêr in Riverlea, Johannesburg, totdat hy uiteindelik na 47 jaar as onderwyser die tuig neergelê het.

• Mnr Mackonie het sedert Oktober 1953 vir 37 jaar lank sonder ‘n blaaskans in diens van die gemeenskap van Davidsonville gestaan as ‘n lid en in ‘n adviserende hoedanigheid, en het op raadsvlak gedien. Hy het ook byna al die wyke in Davidsonville onder sy sorg gehad en alles in sy vermoë gedoen om die inwoners by te staan.

• Daar is gesê dat Mackonie nog nooit ‘n verkiesing verloor het nie en selfs sy lewe in gevaar gestel het om snags na hospitale en kraaminrigtings toe te ry.

• Hy was nie die tipe persoon wat sy eie stert wou prys nie, maar hy het aangehou dat Katanga met die destydse afdakkamertjies en swak, onhigiëniese toiletgeriewe vervang moes word. Hy het hom ook daarvoor beywer dat behoorlike, gerieflike, menswaardige woonstelgeboue opgerig moes word.

• Hy was onder andere ook lid van die SA Spoorweë se raadgewende raad, Sanra.

• Hy was met sy dood steeds voorsitter van die Klub vir Bejaardes en ‘n Kommissaris van Ede, asook lid van Davidsonville se GPF. Hy was steeds gewillig om een en almal in sy woongebied te help wat sy hulp nodig gehad het en wat hom persoonlik (gratis) gaan spreek het. As lid van die komitee, as raadslid en voorsitter vir meer as 12 jaar het hy regtig baie vermag om mense se lewensomstandighede te verbeter. As Kommissaris van Ede het die Minister van Justisie hom ook vereer, en dit het daartoe gelei dat die Stadsraad van Roodepoort tydens ‘n spogfunksie in die Burgersentrum ‘n sieradres aan hom oorhandig het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button