Elke stem tel, sê VF Plus

Kiesers hoort vir party te stem wat hul belange, waardes en behoeftes op die hart dra.

Kiesers moet besef dat Suid-Afrika lankal nie meer ‘n twee-party politieke stelsel het nie, sê VF Plus Raadslid Franco de Lange.

Aangesien daar onlangs ‘n oproep van sekere groepe was om nie te stem nie en baie kiesers dink hulle nie gaan stem nie het die record met De Lange gesels om uit te vind wat kiesers wat so redeneer te doen staan.

“Kiesers moenie hulle ore uitleen aan die wat graag wil propageer dat hulle nie moet stem of dat hulle stem niks beteken as hulle nie vir die ANC of DA stem nie,” sê De Lange.

“Te veel kiesers is nog vasgevang in die ou stemkultuur van vorige generasies. Eers was dit die Natte teen die Sappe, toe die NP teen die KP en nou dink mense dit is of die ANC of die DA, terwyl ons ons nou in ‘n perporsionele kiesstelsel bevind waar elke liewe stem tel.”

De Lange verduidelik aan die hand van ‘n voorbeeld wat VF Plus-leier Pieter Mulder graag gebruik om die probleem te verduidelik.

“My stem maak tog geen verskil nie, glo baie Suid-Afrikaners en veral minderheidsgroepe. Die feit van die saak is dat meer Suid-Afrikaners van die stembus af weggebly het in die vorige algemene verkiesing, as wat vir die ANC gestem het. As net die helfte van die nie-stemmers teen die ANC gaan stem het, het die ANC verloor,” verduidelik De Lange.

“In 2009 het 43 persent van alle Suid-Afrikaners wat mag stem, nie gestem nie. Wat was die gevolg? Die ANC het die verkiesing gewen terwyl maar slegs 37 per sent van alle Suid-Afrikaners wat mag stem, vir hulle gestem het.

“Indien jy dalk een van die Suid-Afrikaners is wat glo dat daar geen bewys is dat jou wegblystem die ANC nie sal bevoordeel nie is jy ook verkeerd,” sê De Lange.

“Die maklikste is om dit met ’n eenvoudige som te verduidelik. Ter wille van die voorbeeld aanvaar ons net tien kiesers het in Suid-Afrika gestem. As die ANC ses stemme gekry het en die opposisie vier, dan kry die ANC 60 persent van die parlementslede in Kaapstad en die opposisie kry 40 per sent. Bly een opposisie-stemmer egter weg, het die ANC steeds net ses stemme en die opposisie het drie stemme. Die ANC word bevoordeel omdat die som nou uit nege en nie meer uit tien gemaak word nie. Die ANC het nou ses uit nege of 66 per sent terwyl die opposisie drie uit nege of 33 per sent het en sonder dat die ANC enige stemme bygekry het, het die ANC skielik ses per sent meer parlementslede in Kaapstad. Die wegbly-kieser het dus veroorsaak dat die ANC die grondwet kan wysig met ’n twee derde meerderheid,” sluit De Lange sy argument af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version