Roodepoort kry sy eie kunsbeweging

Kunstenaars se entoesiasme mag moontlik tot oplewing van die kunste lei.

Op 9 November 2013 het ‘n handjievol plaaslike kunstenaars ‘n uitstalling gehou in ‘n pragtige tuin in Newstraat, Florida, wat hulle die jaar verder gaan ontwikkel.

Onder die kunstenaars wat uitgestal het was Annemarie Heuser (die organiseerder), Wouter Coetsee, Karen Hughes, Mariaan Bosman en Marietjie le Roux.

In 2014 blyk dit dat die ‘Kuns in die Tuin’ uitstalling dalk mag lei tot ‘n volbloed kultuurbeweging of ‘n minikultuurfees.

Van die planne vir die jaar se ‘Kuns in die Tuin’ is om musiekkunstenaars by te bring, moontlik digters en ook skole te betrek om sodoende liefde vir kuns by jongmense te kweek.

Nog ‘n belangrikke aspek van dié dae is natuurlik kos, wat ook deur die organiseerders uitgebrei sal word.

Die volgende kunsuitstalling word op 10 Mei gehou en beloof om selfs Jan Alleman se belangstelling in kuns aan te wakker.

Ten minste 10 kunstenaars sal hulle werke uitstal, plaaslike gaskunstenaars uit die gemeenskap gaan optree en natuurlik sal heerlike kos aangebied word. Daar sal potjiekos en boereworsrolle wees, en natuurlik ‘n teetuin wat heel gepas die asemrowende tuin sal komplementeer.

Twee hoërskole – Hoërskool Florida en Hoërskool Roodepoort – asook twee van die plaaslike laerskole sal aan die skolekunskompetisie deelneem. Op die dag van die uitstalling sal die wenners in die twee kategorieë aangekondig word en daar is wonderlike pryse is op die spel.

Aspirant musiekkunstenaars sal ook optree en musiek maak wat beloof om ‘n ware kunsfees gevoel aan die dag te verleen.

Die groep kan op facebook gevind word onder die naam ‘Kuns in die Tuin’ waar kunsliefhebbers op hoogte kan bly van die nuutste skilderye, nuusgebeure en meer.

Die minikunsfees word te 5 Newstraat, Florida, gehou en toegang is gratis. Die uitstalling begin om 9vm die en duur tot 4nm.

Exit mobile version