Lindenkoor durf Eisteddfod in Roodepoort aan

Lindenkoor vier mondigwording op luisterryke wyse en berei voor vir halfeindrondte van die Nasionale Eisteddfod Akademie.

Die bekende Linden-jeugkoor (Lindenkoor) van Hoërskool Linden in Randburg is hard aan die werk om voor te berei vir die halfeindrondte van die Nasionale Eisteddfod Akademie (NEA) wat op 6 Mei in die Roodepoort Teater in Christiaan de Wetweg plaasvind. Hulle is die enigste groot groep of koor wat tot dié rondte deurgedring het.

Tydens hul 21ste verjaardagkonsert wat in April by die Randburg NG Kerk aangebied is, het die koor onder leiding van Duncan Fourie met Gert Potgieter as begeleier ‘n gehoor van 500 op hul voete gehad

Die welbekende televisiepersoonlikheid en oud-Lindeniet, Riaan Cruywagen, was die seremoniemeester. Hy het later die aand ook sy slag op die orrel gewys en die Lindenkoor in sang gelei.

“Dit was was ‘n onvergeetlike belewenis om die mondigwording van die beste skoolkoor in die land by te woon en aktief deel te neem aan die program. ‘n Mens kan eenvoudig nie genoeg van Lindenkoor kry nie! Mag die muse nooit ophou om Duncan Fourie en Gert Potgieter te besoek nie. Hulle talente is veelvuldig en skaars,” het Riaan na afloop van die funksie gesê.

Bly op hoogte van Lindenkoor-nuus deur hulle te volg op twitter @Lindenkoor of by hulle aan te sluit op facebook by facebook.com/groups/Lindenkoor .

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version