Elections 2014Local newsNews

VF+ positief en vol veglus

Mense moet met ander oë na party kyk, sê De Lange.

Die Vryheidsfront Plus is positief en voel dat hulle hul merk in die komende verkiessing gaan maak, het ‘n partywoordvoerder die week gesê.
VF+ Raadslid, Franco de Lange het gepraat oor sy party se nuwe moderne baadjie en hul pogings om persepsies oor die party te verander.

“Vir die eerste keer sedert ’94 gaan dit goed met die party,” sê De Lange.

“Dit is vir ons ‘n riem onder die hart om te sien dat sowat 30 per sent nuwe lede engelssprekend is en dat al hoe meer bruin mense sporadies by ons aansluit”.

De Lange sê ook dat, na ‘n intensiewe byna drie jaar lange gesprek met die Khoisan mense, hulle ook nou die VF heelhartig steun.

Sy party ondersteun ook die Khoisan met hul deelname aan die First Nation-inisiatief waarvolgens die Khoisan as die oorspronklikke inwoners van Suid Afrika erken moet word en volgens De Lange “nie die ANC se leuens dat swartes eerste hier was nie”.

“Die VF+ sien tans massiewe groei wat plaasvind. Selfs meer liberale Afrikaners kyk met ander oë na ons”.
De Lange skryf dit toe aan die feit dat die DA in sy najaag na die swart stemme van die ANC sy oorspronklike tradisionele kiesersbasis vervreem het.

“Die DA moes noodgedwonge meer en meer die ANC se beleid oor swart bemagtiging en regstellende aksie napraat en het daardeur baie van sy wit en bruin ondersteuners vervreem. Vir die eerste keer in die geskiedenis sien ons ook dat DA-lede na die VF+ oorloop. ‘n Rare verskynsel in enige politieke opset is vir lede van ‘n groter party om na ‘n kleiner party oor te loop,” sê De Lange met verwysing na die onlangse oorlopery van ‘n paar prominente Afrikaners waaronder Nicky van den Berg, Lourie Bosman en Pieter Voster.

“Huidiglik is ‘n stem vir die DA ‘n stem tot jou nadeel as jy bruin of wit is,” sê De Lange onomwonde.
De Lange het aan Roodepoort Record gesê dat mense totaal oningelig is rondom die kwessie van minderheidsregte en selfbeskikking en dat mense se onkunde uitgebuit word deurdat drogbeelde van aparte nedersettings en verkrampte ‘eenkantheid’ aan die konsepte verbind word.

“As mense verby die idee kan kom dat hulle moet vir die DA stem aangesien hulle die grootste opposisieparty is, sal hulle dalk met hul harte stem vir die VF+ as hulle verstaan dat minderheidsregte en selfbeskikking eintlik ‘n ultramoderne politieke konsep is waarop reeds sowat 42 verskillende nasies, met reg, aanspraak maak. Selfs ons eie grondwet maak pertinent voorsiening daarvoor.

“Kiesers moenie wegskram van die konsep van selfbeskikking omdat hulle dink dit behels ‘n eenkant laertrekkery nie. Dit gaan daaroor om binne die raamwerk van ‘n Suid-Afrika nog steeds outonomie te hê om te kan besluit oor kwessies wat jou kultuur, sosio-ekonomiese status en dies meer raak. Sulke sisteme is hoogs suksesvol in lande soos Switserland en Ethiopië,” sê ‘n opgewonde De Lange.

Op ‘n vraag oor hoe die VF+, as ‘n relatief klein party, betekenisvol namens hulle kiesers sal kan beding, het De Lange hom sterk uitgespreek.

“Dis eenvoudig. Weer eens ‘n konsep wat onderontgin in Suid Afrika is, maar met groot sukses in byna elke moderne demokrasie toegepas word — koalisie-politiek. Dit wil sê vir opposisie partye om rondom punte waaroor hulle saamstem ‘n opposisie-blok te vorm sonder om deur mekaar opgeneem te word. Elke party behou sy identiteit en verraai nie die waardes waarvoor sy kiesers gestem het nie, maar vorm ‘n entiteit wat ‘n sterk teenvoeter vir ‘n party soos die ANC is wat net met getalle en vals homogeniteit oor die wil van die mense wil stoomroller,” sê De Lange.

Related Articles

Back to top button