NG Horison-Noord bied passiespel aan

Sluit aan by die NG Horison-Noord gemeente gedurende April om meer te leer oor Paasfees en Goeie Vrydag.

Die NG Kerk Horison-Noord bied inwoners die geleentheid aan om die belangrikheid van Goeie Vrydag en Paasfees in geheel beter te verstaan deur hulle passiespel hierdie April.

Op Donderdag 10, Vrydag 11 en Saterdag 12 April bied die gemeenskap ‘n passiespel aan wat Jesus Christus se laaste paar ure voor hy oorgegee is om gekruisig te word voor gehore gaan verhaal. Die persverklaring verduidelik die reis as volg.

“Ons wil aan mede-Christene die geleentheid bied om die belangrikheid daarvan eerstehands te beleef deur hierdie spel.

“Ons gaan begin by die poorte van Jerusalem waar Jesus op ‘n donkie die stad ingery het terwyl ‘n skare hom toegejuig het.

“Daarna kry ons ‘n kykie in die bovertrek, waar Jesus sy dissipels se voete gewas het voordat Hy saam met hulle aangesit het om pasga te geniet — en ons hoor dat een van Sy eie binnekring hom sou verraai en uitlewer aan die volksleiers.

“Ons volg Jesus in die nag waar hy saam met drie van sy dissipels eenkant bid; ons verstaan sy angs terwyl sy laaste ure uitloop.

“Ons wil hê gehore moet hulself inleef in die oomblikke waarin Jesus later gearresteer word en hoe sy getrouste volgelinge hom verraai en weghardloop — ons reis eindig voor ‘n kruis waar hy uiteindelik sou sterf.”

Die persverklaring lui, “ons nooi jou uit”.

“Kom beleef Jesus se laaste ure en stap saam met ons, en herinner jouself dat Hy dit vir jou gedoen het.”

Die passiespel sal elke aand om 7 nm begin by die NG Kerk Horison-Noord wat op die hoek van Hawk- en Pigeonstrate geleë is. Toegang is gratis maar diegene wat die passiespel wil bywoon word gevra om toegangskaartjies by die kerk af te haal voor of op die dag van die spel aangesien getalle beperk is.

Vir verdere navrae kontak die kerkkantoor op 011 766 2508 van Maandag tot Vrydag tussen 9 vm en 1 nm.

Exit mobile version