Deysels van Durban Deep terug Port Elizabeth toe

Seun bly agter om sy eie gesin te hervestig.

Die Deysel-ouerpaar het van hul huurhuis in Durban Deep na Port Elizabeth gevlug nadat dit laasweek tydens ‘n inbraak deur diewe met klippe bestook is.

Volgens die Deysels se seun, Gerald Deysel (22) is die ouerpaar en sy suster terug Port Elizabeth toe ná die voorval verlede naweek (16 Maart).

Die Record het voorheen berig dat die familie moes vlug ná die pa en seun die diewe voorgekeer het.

Die Deysels — die ouerpaar, dogter (21), Gerald (22), sy verloofde (27) en dié se twee dogtertjies van 5 en 7 jaar oud, moes omstreeks middernag te voet vlug met net die klere wat hulle aangehad het. Met beide pa en seun Gerald se terugkeer na die huis die volgende dag was al hul besittings uit die huis gesteel.

Gerald Deysel, ‘n bestuurder by ‘n winkel in Westgate sentrum, het gedurende die afgelope week minstens twee dae by die werk verlof geneem om vir sy gesin nuwe woonplek te soek.

Die ouers het ook ‘n woonplek van hul eie gesoek, maar volgens Gerald is dié twee en sy suster laasweek Vrydag (21 Maart) terug na Port Elizabeth.

“My ma-hulle het besluit om eerder terug te gaan Port Elizabeth toe,” het hy gesê, “en hulle hoop om weer daar oor te kan begin”.

Gerald was dankbaar vir die hulp van die vrygewige inwoners wat vir hul bygestaan het.

“Hulle ken mense daar anderkant by wie hulle blyplek het, en my pa soek nog werk.”

Gerald en sy gesin hoop om blyplek in Roodepoort se sentrale sakegebied te kry, het hy Woensdag gesê. Hy werk al by Westgate vir die afgelope drie jaar en dink nie hy sal sommer verander of verskuif nie.

“Ons almal probeer maar vergeet van wat met ons gebeur het, ons probeer vorentoe kyk… ek wil net hierdie plek kry en my gesin hervestig,” het hy gesê.

Exit mobile version