NewsSchools

Kruiner haal twee Suid-Gauteng hokkiespanne

Jeanli in Suid-Gauteng Uitnodigingspan en A-span se groepe ingesluit.

Jeanli de Klerk, ‘n Graad 7-leerling en hokkiespeler van Laerskool Helderkruin het besluit om vanjaar behoorlik haar vlerke met ‘n hokkiestok in die hand te sprei.

Vir die afgelope twee jaar verteenwoordig Jeanli die D12 Hokkiestreekspan. Vanjaar het sy dit ‘n trappie verder geneem deurdat sy vir twee verskillende Suid-Gauteng hokkiespanne gekies is.

Jeanli is nie net in die Suid-Gauteng Uitnodiging XI opgeneem nie maar sal ook een van vier dogters op die reserwebank wees wat te eniger tyd vir die Suid-Gauteng A-span kan opdraf.

Dit volg nadat sy haarself bewys het tydens die Suid-Gauteng Skolehokkieproewe wat oor twee naweke by die St Andrews School for Girls in die suide van Johannesburg gehou is. Hierdie proewe was slegs vir seuns en dogters onder 13 wat in hulle streekspanne opgeneem is.

Met die begin van die eerste uitdunrondte op 2 Maart was daar ongeveer 88 dogters wat hulle onderskeie streke verteenwoordig het. Daarna is die groep na 44 dogters verminder wat in aksie was in die finale rondte op 9 Maart.

Uit hierdie groep is twee spanne gekies, naamlik Suid-Gauteng A en die Suid-Gauteng Uitnodiging XI.

“Ons wens vir Jeanli baie geluk met hierdie pragtige prestasie. Die Kruiners wens jou alle sterkte toe met die hokkieseisoen,” het Kruiners se woordvoerder, Isobel Mitchley gesê.

Related Articles

Back to top button