Egte geelperskereën in Gauteng

Sommige inwoners sit hande in die hare oor die sogenoemde geelperskereën.

Alhoewel meeste inwoners glimlag oor die reënbuie wat Witpoortjie en omliggende woongebiede gereeld tref, kan die Maart-reën tot dusver met die ietwat outydse geelperskereën vergelyk word.

Die HAT verwys na die konsep van geelperskereën as “langduringe reën wat in die tyd val wanneer geelperskes ryp word en die bewerking daarvan belemmer”. Hierdie naam het dus ‘n negatiewe kant. Dis ook die gevoel onder die inwoners en besigheidseienaars in Witpoortjie, Lindhaven en Princess vir wie die afgelope twee weke sukkel-sukkel was.

In een van die besigste strate in Witpoortjie, McGrathstraat, waarlangs verkeer verby die Pick n Pay-sentrum beweeg, het ‘n paar addisionele slaggate verkeersvloei bemoeilik.

In Albertina Sisuluweg (voorheen Hoofrifweg) wat verby Princess informele nedersetting loop, moes motoriste al sedert Dinsdagaand 11 Maart met een baan minder oor die weg kom nadat ‘n boom oor die pad geval het.

Besighede soos handelaars in tweedehandse goedere en afslaers kan al twee weke lank nie hul meubels buite uitstal nie as gevolg van die reën.

Die geelperskereën in Roodepoort is dus nie nadelig vir die inwoners se perskes per se nie, maar wel hul beweging, besigheid en gemoedstoestand. Weather24 voorspel vir die volgende week ‘n 37 per sent kans op reën, en bewolkte dae en donderbuie word verwag.

Lees die volgende gedrukte uitgawe van die Record om meer oor die nagevolge te lees.

 

Exit mobile version