Local newsNewsSchools

Kleuterskool onder wolk van skuld

Huurders weet nie meer watter kant toe nie.

Horizon View — Toe twee huurders twee jaar gelede ‘n verwaarloosde gebou in Horison oorgeneem en ‘n kleuterskool daar begin het, is daar gedink dat die lang gras en stukkende vensters die minste van hul probleme sou wees.

Voordat George Perkins en Lala Dennysschen Nemo en Dori Kleuterskool vroeg in 2012 daar begin het, was die gebou ‘n murasie. Na ‘n lang gesukkel het hulle dit in ‘n prag kleuterskool omskep. Daar is egter ook ‘n wolk van skuld wat oor hulle hang.

“Krag was die eerste van ons kopsere. Ek en Lala het ‘n eens afgeskeepte gebou na ‘n gebou vir kinders getransformeer maar duidelik nie geweet wat op ons wag nie.

“Ons het aanhoudend rekeninge ontvang selfs al was die drade vir die krag geknip – hoe werk dit? Ons moes van gasstowe gebruik maak en ons het tot ‘n rekening van oor die R1 miljoen ontvang wat eintlik bedoel is vir ‘n ander besigheid in dieselfde straat,” vertel Perkins.

Perkins sê dat hy toe self ‘n plan moes maak want dit kon nie so aanhou nie. Hy het ‘n kontrakteur gevra om ‘n voorafbetaalde meter te installeer, maar volgens Perkins het hulle steeds rekeninge ontvang vir krag.

Nadat die elektrisiteitprobleem een dag uit die bloute iets van die verlede was, was dit egter nie lank nie voordat hulle met ‘n waterprobleem gesit het – dié keer met ‘n agterstallige rekening van meer as R230 000.

Volgens albei die huurders is dit nie hulle probleem nie, en dat die bank asook die nuwe eienaar wat die plek in Desember 2012 op ‘n veiling gekoop het, dit moet uitsorteer.

Lala voeg by dat die skool en sy kinders nou daaronder ly.

“Die badkamergeriewe ruik sleg omdat daar vir amper twee dae nie water was nie. Die pype van die toilette val uitmekaar. Die plek ruik regtig onhigiënies. Ons moet tot water aanry.”

George het bygevoeg, “Op die derde dag kon ons net nie meer dat die kinders so sukkel nie en het self die water gaan aansit. Ek sal in die hof gaan baklei of selfs tronk toe gaan solank hier net water vir die kinders is.”

Die nuwe eienaar, Frans Geldenhuys sê dat ‘n deel van die skuld die huurders se verantwoordelikheid is.

Geldenhuys het bevestig dat hy die perseel op ‘n veiling in Maart verlede jaar gekoop het en bewus is van die agterstallige rekening maar dat dit ‘n geveg tussen die vorige eienaar en ander partye is.

“Vanaf 13 November is al die munisipale gelde my verantwoordelikheid. ‘n Deel van die groot hoeveelheid skuld is hulle (George en Lala se) verantwoordelikheid want soos ek verstaan het hulle nie ‘n sent aan die vorige eienaars betaal nie.

“Tot vandag toe het ek self ook nie ‘n sent van hulle ontvang nie. Daar is net heeltyd verskonings.”

Die huurders meen hulle het wel betaal.

Geldenhuys het bygevoeg dat daar ‘n onaangename verrassing op die huurders wag wanneer hulle kontrak oor drie jaar verstryk. Hy het aangedui dat hy ander planne met die perseel het.

Related Articles

Back to top button