Local newsNews

NG Kloofendallers se jeug maak geskiedkundige plan

Tydelike oplossing bring groot opwinding vir jongklomp

Sondag 19 Januarie is ‘n dag wat die NG Kerk Kloofendal-gemeente nog lank sal onthou as ‘n dag waarop daar geskiedenis gemaak is.

Die jeug van Kloofendal, onder die bekwame leiding van proponent De Wet Fourie, samel ywerig fondse in vir ‘n jeuglokaal. Fondsinsamelings neem egter baie tyd en die entoesiastiese jeugspan het besluit daar moet ‘n ander plan gemaak word.

Met die toestemming van die Kerkraad is daar verlede week ‘n pragtige, spierwit tent aangekoop, wat sommer dadelik opgeslaan en binne versier is.

Sondagoggend om 9vm het kinders grootoog en baie opgewonde na die tentkerk toe gekom waar die eerste Tjokkerdiens en Kategese gehou is. Die kinders se ogies het geblink en hulle het hulle behoorlik verwonder aan hul eie tentkerk. Verder is die jonges verras met ‘n hanswors wat hulle by die Tjokkerdiens ingewag het.

Oud en jonk het in en om die tent gekuier en kon nie genoeg kyk en geniet nie. Ouers is later half traag na die gemeentesentrum toe vir die erediens, terwyl sommige ouers besluit het om die tentkerk saam met hul kinders op die proef te stel.

Volgens De Wet was die eerste diens “so ‘n bietjie deurmekaar, maar nadat die opgewondenheid ‘n bietjie bedaar het, was dit wonderlik en baie geseënd. Die kinders het dit so geniet dat hulle die tentkerk met moeite na die diens verlaat het. Ongeveer 45 persone het die eerste Tjokkerdiens bygewoon. Alle dank en eer aan God.”

De Wet is intussen na Kloofendal beroep en het die beroep aanvaar. Hy word op 2 Februarie as jeugleraar by die NG Kerk Kloofendal bevestig.

Related Articles

Back to top button