Local newsNewsUpdate

Gedenkfontein: Help ons herbou

Die Burgersentrum-gedenkfontein kan behou word, mits inwoners donasies gee.

Die gedenkfontein by die Roodepoort Burgersentrum, wat al tevore in die nuus was, kan moontlik gerestoureer word, danksy Wimpie van Niekerk.

Van Niekerk is vreeslik passievol oor dié fontein waaroor die Record tevore berig het. Einde November 2013 was werkers besig om die fontein, wat voor die hoofingang van die Burgersentrum is en ter nagedagtenis opgerig is, se onderste gedeelte met klippe toe te pak om bo-op tuin te maak. Volgens die werkers was dit te veel werk en kos dit te veel geld om die fontein in stand te hou.

Van Niekerk, die eerste inwoner wat die Record daaroor gekontak het, het gevoel dié besluit is onnadenkend geneem en was van mening dat Roodepoort se geskiedenis uit die sewentigerjare nie sommerso weggemaak kan word nie.

Later het fasiliteitsbestuurder Asogan Maistry van die Johannesburgse Eiendomsmaatskappy ingestem dat net die onderste gedeelte van die fontein in ‘n tuin omskep sal word.

Tog was Van Niekerk en ander inwoners nie tevrede met die besluite wat sonder die gemeenskap se insette geneem is nie.

Vandag, Dinsdag 7 Januarie, het Van Niekerk self vir Maistry en Dheeran Ramdhari ontmoet om die moontlikheid te bespreek dat donasies vanuit die gemeenskap die fontein kan red en kan sorg vir die instandhouding daarvan. Van Niekerk het ook toegesien dat ANC-raadslid Willie van der Schyf betrokke raak.

“Ons wil die hele fontein behou, nie net ‘n gedeelte daarvan nie.

“Te min mense is bewus van hierdie stuk geskiedenis en ons voel dat hulle ontneem sal word van ‘n belangrike gedeelte van Roodepoort, sou die planne deurgevoer word.

“Wanneer goed moeilik raak is inwoners dikwels skrikkerig om betrokke te raak en alles gaan tot niet. Daar word dan van alles ontslae geraak.”

Maistry het uiteindelik ingestem dat donasies deur die publiek hulle sal oortuig om die fontein te herstel. Alle werk aan die fontein is dus tot verdere kennisgewing gestaak.

Van Niekerk doen ‘n beroep op alle inwoners om betrokke te raak by sy passieprojek. Diegene wat belangstel kan Willie van der Schyf skakel by 082 651 4424.

Related Articles

Back to top button