‘n Duisend skooltassies vir 2014

Solidariteit Helpende Hand pak 1 000 skooltassies vir minderbevoorregte kinders.

Met een duisend skooltassies reg vir die nuwe jaar hoef geïdentifiseerde Graad 1s en hul ouers nie te bekommer oor regmaak vir die groot skool in Januarie nie.

Danksy Solidariteit Helpende Hand sal dit teen Januarie 2014 vir 4 500 minderbevoorregte kinders moontlik wees om laerskool te begin met die nodige skoolbehoeftes. Op Saterdagoggend 7 Desember was Laerskool Dr Havinga se skoolsaal gepak met bokse skoolbehoeftes en talle vrywilligers om lewe vir sekere laerskoolleerlinge te vereenvoudig. Nuwe Graad 1s, wat deur verskeie laerskole en Solidariteit geïdentifiseer sal word, kan na ‘n skooltas met 22 nodige items uitsien.

“Baie kinders moet met laerskool begin sonder die nodige skoolbehoeftes soos potlode, vetkryt, ‘n skêr ensovoorts, en sukkel dan om aan te pas,” verduidelik Anél du Preez, projekorganiseerder.

Du Preez vertel dat elke tassie sowat R200 kos en dan die leerling van potlode, waterverf, klei, ‘n springtou, ‘n witbord, ‘n tennisbal, gom, legkaarte en ander belangrike items sal voorsien. Spesiale Bybel-leer boekies is ook geskenk om in elke tassie te pas.

Drie ander sulke tassie-pakgeleenthede is elders in Johannesburg gehou om nasionaal 4 500 tassies reg te maak vir die nuwe jaar. Sanger en bekende persoonlikheid Joe F het ook kom help en self ‘n hele klomp tassies gepak. Solidariteit bedank graag hul borge, Laerskool Dr Havinga, Die Vleispot in Krugersdorp, Roodt Vleis, Konedaris en 3D Jumping Castles wat die projek moontlik gemaak het.

Streeksorganiseerder van Gauteng-Suid, Adele Kruger versoek mense om Solidariteit op hul kerslysie te sit.

“Skenk finansieel net dit wat jy kan bekostig hierdie kersfees,” vra sy en verwys na die Lindhaven skenkingskantoor op Progresslaan as ‘n skenkingspunt.

“Wees ‘n held of heldin en borg ‘n tassie.”

Verdere bydrae kan gelewer word deur ‘tassie’ te sms na 38969.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version