Net die helfte van die gedenkfontein bly in die slag

Gedenkfontein nie heeltemal daarmee heen nie.

Slegs die onderste gedeelte van die fontein sal omskep word in ‘n tuin, vertel fasiliteitsbestuurder Asogan Maistry van die Johannesburgse Eiendomsmaatskappy na ‘n hewige debat met die Record op Dinsdag 3 Desember.

Dit volg nadat die Record op Vrydag 29 November gesien het dat die onderste gedeelte van die gedenkfontein by die Roodepoort Burgersentrum vol bourommel lê. Die plan was aanvanklik om die fontein tot niet te maak omdat dit vir die munisipaliteit ‘n onderhoudnagmerrie geword het. Nadat een inwoner alarm gemaak het, het menige ander die Record gekontak met hul griewe en vrae.

“Dit is vir my eienaardig dat niemand iets oor die fontein gesê het terwyl die water nie gevloei het nie,” het ‘n verbaasde Maistry vir die Record gesê.

“Die fontein werk al vir jare nie en die voorstel om eerder daar ‘n tuin aan te lê, is seker 12 jaar gelede reeds gedoen.

“Ons het al telkemale probeer om die fontein reg te maak – die pomp is die afgelope klompie jare minstens vyf keer vervang.

“Ons wil nie aanhou om belastingbetalers se geld so te mors nie.”

Maistry het eers volgehou dat dit nie die moeite werd is om die fontein te behou nie, maar het later met ‘n alternatiewe oplossing vorendag gekom.

“Beskou hierdie as die laaste uitweg vir die fontein – ek gaan spesialiste uitkry om te kyk wat ons met die hoofgedeelte van die fontein (op die stoep van die Burgersentrum) kan uitrig om dit te behou.

“Die onderste (dam) gedeelte van die fontein sal steeds opgevul word.

“Daardie gedeelte hou net eenvoudig aan met lek ten spyte van ons pogings om dit te herstel.”

Inwoners kan hul griewe oor die veranderings lug of voorstelle by die Johannesburgse Eiendomsmaatskappy doen deur hul te skakel by 010 219 9000.

Exit mobile version